Omstanders by ‘n toneel waar ‘n vierjarige meisietjie op Woensdag 3 September ernstig in ‘n noodlottige bendeverwante aanval in Atlantis gewond is , was dit eens dat daar dringend ‘n plan gemaak sal moet word.
Een man is in die aanval doodgeskiet. Verskeie skote het hom getref.
Die voorval het gebeur terwyl baie inwoners van Hoopsingel in Saxonsea nog besig was om hul eerste koppie koffie vir die dag te nuttig.
Volgens kapt. Lisa Munro, woordvoerder vir die Atlantis-polisie, word ‘n saak van moord en poging tot moord ondersoek.
Volgens ‘n betroubare bron was die oorledene besig om saam met sy meisie skool toe te stap.
Die vierjarige wat binnekort haar vyfde verjaarsdag vier, was saam met haar ma op pad na haar kleuterskool naby waar die oorledene aangeval is.
Volgens Munro het die koeël die kleuter van agter getref, en is dit deur haar maag. Sy is na die naaste hospitaal gejaag en is intussen na ‘n Kaapse hospitaal geneem.
Skaars twee weke gelede is ‘n drie maande oue baba in Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte in Kaapstad in die kop geskiet in ‘n bende-aanval waarna hy in die hospitaal oorlede is, het Tygerburger berig.
‘n Ingeligte bron het gesê die 31-jarige oorledene is ‘n bendeleierfiguur in die Saxonsea-buurt.
Volgens Munro het die oorledene op die toneel aan sy wonde beswyk.
Geen verdagte is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek die saak verder.
*Dit is ‘n brekende storie.





