Glenda en Faried Petersen, die ouers van die vermoorde Gavin Petersen, sê hulle vergewe Adrian Davids, ook bekend as “Apah”. Volgens die ouers het hulle verlede week met Davids vergader omdat hy volgens hulle om verskoning wou vra.
Davids het ‘n staatsgetuie geword en is nie van die moord op Chalie Pellis en Petersen, wat op 21 Augustus 2024 doodgeskiet is, aangekla nie.
Volgens Glenda, Gavin se ma, het sy vrede gemaak, want om nie te vergewe nie, gaan nie haar kind terugbring nie, het sy emosioneel vertel. “Ek sal gewis nie kan vergeet nie, maar een ding is seker: ‘Apah’ het nie die volle waarheid aan ons vertel nie, maar daarvoor sal hy eendag self verantwoording moet doen.”

Volgens Glenda is daar nog baie onduidelikhede in sy weergawe van die gebeure. “Hy het verby ons huis gehardloop. As hy so onskuldig was, hoekom het hy nie hier ingehardloop nie?” wou sy weet.
“Indien hy regtig geen aandeel in die voorval gehad het nie, hoekom het hy hom in Mitchells Plain gaan wegsteek? Daar is net te veel wat nie sin maak nie,” het sy vertel terwyl die trane vlak in haar oë sit.
Volgens Glenda het hy al die kanse gehad om na die polisie te gaan, maar hy het nie. In plaas daarvan het hy ook voordeel gekry uit die goed wat gesteel is en dit het die woede in haar laat oorkook – bloot omdat hy nie die waarheid praat nie en misdaad probeer wegsteek, verduidelik sy. “Ek en my familie dien ‘n lewende God. Ek hoop net hy en sy familie doen dit ook. Wat ons nou ook al doen, gaan nie ons kind terugbring nie,” snik sy.

“Ek het hom gevra hoekom hy nie na die naaste polisiestasie toe gegaan en gesê het wat gebeur het nie, terwyl ons dag en nag steeds seer, pyn, woede en haat ervaar en bly wonder wat daartoe gelei het dat my kind Gavin onskuldig so koelbloedig doodgeskiet moes word. O, ek het daai mense gehaat; regtig gehaat. Ek het gevoel as ek net geweet het wie hulle regtig is, sou ek dalk iets gedoen het om daai moordenaars self te laat doodmaak. Maar toe het die Here se stem gekom: ‘Ek gaan jou stryd stry.’
“Die Here bly die Here. Ons familie is dankbaar – dankbaar vir die gebede van familie, vriende en kennisse wat ons deurdie moeilike tyd gedra het. Die Here het my gebed verhoor. Ek het Hom gevra dat 2026 die jaar moet wees waarin daai moordenaars boet en die saak afgehandel word.
“Apah (Adrian), ek vergewe jou. Ek weet dit gaan nie my kind terugbring nie, maar jy moet die Here om vergifnis vra,” het Glenda afgesluit.



