‘n Samelewing se menswaardigheid word nie gemeet aan hoe hard en gereeld ons oor misdaad praat nie, maar aan hoe ons optree wanneer ons vermoed iemand het iets verkeerd gedoen.
Die dood van Bradley Hartlief plaas ongemaklike vrae op die tafel oor geweld, geregtigheid en die waarde van ‘n mens se lewe. Sy naam moet ons herinner aan die gevaar van ‘n samelewing waarin mense hulself as aanklaers én regters aanstel.
Om die reg in eie hande te neem, is nie geregtigheid nie. Niemand het die reg om ‘n ander mens te martel, aan te rand of te probeer verdrink omdat hulle vermoed dié persoon het ‘n misdaad gepleeg nie. Die vermoede van skuld is nie bewys van skuld nie. Die regstelsel bestaan juis om beskuldigings te ondersoek en skuld deur ‘n behoorlike regsproses te bepaal.
Agter hierdie tragedie lê ook groter maatskaplike euwels – geweld wat genormaliseer word, ‘n gebrek aan verdraagsaamheid, gemeenskappe wat vertroue in die regstelsel verloor en die neiging om konflik met brutaliteit te probeer oplos.
Dit is egter nie die gemeenskap se plek om skuld te bepaal of die verdagtes vooruit te veroordeel nie. Die bewerings moet deeglik ondersoek word en die regsproses moet sy loop neem.
Bradley se dood laat ‘n gesin in rou en ‘n gemeenskap met vrae.
Geregtigheid beteken dat die waarheid vasgestel word, verantwoordbaarheid volg waar skuld bewys word en niemand bo die reg verhewe is nie.
Ons mag nooit toelaat dat woede die plek van geregtigheid inneem nie.
LEES OOK: Vermeende Atlantis-bylmoordenaar se borgtog geweier



