Polisielint om die misdaadtoneel gespan. Foto: Murphy Roberts
Polisielint om die misdaadtoneel gespan. Foto: Murphy Roberts

ATLANTIS – Woensdagmiddag (25 Februarie) was nie soos enige ander dag in Atlantis nie. Dit het in hartseer en trauma vir baie geëindig toe skieters op ’n taxi-eienaar voor die Atlantis Sekondêre Skool losgebrand het. Een leerder is doodgeskiet en twee leerders is in die proses gewond.

Die koeëls was na bewering bedoel vir Eugene Titus (42), algemeen bekend as “Spoed”. Hy het voor die skool vir sy passasiers gesit en wag toe onbekende mans, wat vermoedelik reeds ’n geruime tyd voor die skool rondgedrentel het, op hom toegeslaan het.

Die hartseer toneel voor die skool. Polisielint om die misdaadtoneel gespan. Foto: Murphy Roberts
Die hartseer toneel voor die skool. Polisielint om die misdaadtoneel gespan. Foto: Murphy Roberts

Volgens kapt. Lisa Munro, polisiewoordvoerder, is Titus verskeie kere geskiet, terwyl ‘n 14-jarige graad-8-leerder wat van die koeëls probeer wegkom het, verskeie kere in die bors getref. Hy het op die skoolterrein voor ander leerders inmekaargesak en gesterf.

Volgens ’n betroubare bron het Titus verlede week ‘n soortgelyke aanval oorleef, waarna hy glo al verskeie kere weer met die dood gedreig is.

Twee dubbele moorde op Atlantis in minder as 24-uur het die dorp behoorlik op hol. Twee mense, waaronder ’n taxieienaar en ’n taxibestuurder, is Dinsdag 24 Februarie doodgeskiet. Volgens Munro het die voorval vroegaand by die taxistaanplek in Witsand plaasgevind. Een man het op die toneel aan verskeie skietwonde beswyk, terwyl die ander slagoffer kort daarna in die Wesfleur-hospitaal gesterf het.

Dit bring die aantal slagoffers in voortslepende taxigeweld in Atlantis op vier te staan. Die tweede voorval voor die skool, wat volgens bronne ’n wraakaanval was, het die Atlantis-gemeenskap tot in sy fondamente geskok.

Die polisie het bevestig die voorval is níé bendeverwant nie, maar deur die taxigeweldeenheid ondersoek.

Volgens ’n ingeligte bron was die twee oorledenes in Witsand lede van Cape Amalgamated Taxi Association (CATA), terwyl Spoed ’n lid van die Congress of Democratic Taxi Associations (CODETA) was.

Met emosies wat hoog loop en ’n sterk polisieteenwoordigheid, het WeskusNuus verneem dat skole vandag hul leerders vroeër huis toe gestuur het. Volgens die hoof van die Atlantis Sekondêre Skool is die skool vandag gesluit en berading is deur die departement van onderwys beskikbaargestel.

‘n Afvaardiging van die Stad Kaapstad het ook vanmiddag die dorp besoek om met die polisie en die gemeenskapspolisiëringsforum te beraadslaag.

Raadslede en gemeenskasleiers gesels met Glodine Smith van die Atlantis-gemeenskapspolisiëringsforum. Kloksgewys van voor staan Janice Breytenbach (‘n DA-parlementslid), gemeenskapsaktivis Peter Stoffberg, Ian Cameron (‘n DA-parlementslid) en Nicholas Gotsell (afgevaardigde van die Nasionale Raad van Provinsies). Foto: Murphy Roberts

Volgens Munro is daar nog geen verdagtes in een van die voorvalle in hegtenis geneem nie.

WeskusNuus het verneem dat een van die leerders wat in die rug getref is, tans buite gevaar is en in die hospitaal aansterk. Die ander leerder is vir sy wonde behandel en reeds ontslaan.

Burgemeester bied R100 000 beloning aan vir inligting oor taxi-moorde in Atlantis

Intussen het die Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, aangekondig dat die Stad Kaapstad ’n beloning van tot R100 000 aanbied vir inligting wat lei tot die inhegtenisneming en vervolging van diegene wat verantwoordelik is vir die voortgesette taxi-verwante geweld in Atlantis.

“Ons staan saam met die vredeliewende inwoners van Atlantis wat nie hoef te ly as gevolg van interne gevegte tussen taxibase nie,” sê Hill-Lewis. “Ons treur diep saam met die families van die slagoffers, insluitend die jong leerder wat tragies doodgeskiet is.”

Hy het bygevoeg: “Ek het opdrag gegee dat die Stad ’n beloning van tot R100 000 aanbied vir inligting wat lei tot die inhegtenisneming en vervolging van die verantwoordelikes. Enigiemand wat kan help, kan dit anoniem doen en word sterk aangemoedig om vorendag te kom.”

Raadslid JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê die Stad Kaapstad se veiligheids- en sekuriteitsondersoekeenheid is betrokke by die ondersoek en dat stappe geneem sal word teen diegene wat by die skietery betrokke is. Hy het ook die gemeenskap aangespreek om hulp te verleen: “Ons doen ’n beroep op almal met relevante inligting om dit aan ons deur te gee sodat ons hierdie geweld kan stop.”

Gee anonieme wenke deur per e-pos by SSIMS.SSIUReporting@capetown.gov.za fo per telefoon by 0800 00 6992.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article