Die blitsige optrede van inwoners van Robinvale het die polisie gehelp om vermeende inbrekers aan te keer.
Die Robinvale Sekondêre Skool is in die skoolvakansie tussen 14 en 21 Julie deur inbrekers geteiken en die skelms het met byna R70 000 se goedere weggekom. Volgens kapt. Lisa Munro, ‘n woordvoerder vir die Atlantis-polisie, het die inbrekers met waardevolle toerusting weggekom nadat iemand vroeër daardie week ook by die skool ingebreek is.
Volgens ‘n omsendbrief van die skool het die inbrekers eers by die opsigter se plek ingebreek en gereedskap en
sleutels gebuit.
Dieselfde inbrekers het later in die week teruggekom en met skooltoerusting, skoolklere en sporttoerusting laat spaander.
Volgens Munro het speurkonst. Solly Josef vinnig reageer nadat inwoners inligting aan hulle verskaf het.
Twee verdagtes is in Gazoniastraat en Babler’s Place aangekeer en van die gesteelde items is in hul besit gevind, het Munro bevestig.
Die twee verdagtes – 28 en 34 jaar oud – het Dinsdag (22 Julie) in die landdros- hof verskyn. Die staat gaan volgens Munro borgtog teenstaan. Volgens haar is speurders besig om nog inligting op te volg om die gesteelde goedere, wat steeds soek is, op te spoor.


