Inwoners van Atlantis is woedend omdat die Stad Kaapstad beplan om die Thusong-sentrum te verkoop.
Dié plan het ook daartoe gelei dat die departement van binnelandse sake se huurooreenkoms nie hernu is nie, met die gevolg dat inwoners nou op mobiele dienste moet staat maak.
Volgens Allison Adams, woordvoerder van die People’s Process, het inwoners reeds in Desember verlede jaar begin om die verkoop van die historiese gebou teen te staan.
Adams sê duisende inwoners het reeds die petisie onderteken en ongeveer een duisend e-posse is deur inwoners aan Subraad 1 gestuur om hul teenkanting teen die verkoop uit te spreek.
Adams beklemtoon dat die People’s Process nie ’n politieke beweging is nie, hoewel verskeie politieke leiers in die dorp die proses ondersteun. “Inwoners besluit self watter stappe gevolg moet word,” verduidelik sy.
Sy voeg by dit is belangrik dat inwoners moet weet dat enige aksie wat geneem word, aan die inwoners behoort.
Om dié rede is daar geen komitee wat besluite neem sonder dat inwoners daarvan bewus is nie. Die hoofdoel is om te verseker dat die stad nie met planne voortgaan om die gebou te verkoop nie.

Volgens Allister Lightburn, voorsitter van Subraad 1, is die gebou nog nie verkoop nie en moet daar nog baie water in die rivier loop voordat dit kan gebeur.
Hy sê daar is wel ’n tegniese verslag wat aanbeveel dat die sentrum verkoop moet word weens hoë onderhoudskoste. Lightburn beklemtoon egter dat openbare deelname moet plaasvind voordat ’n finale besluit geneem kan word.
Volgens Adams is die doel van die veldtog om te verseker dat die sentrum ’n publieke bate vir huidige en toekomstige geslagte bly.





You must be logged in to post a comment.