Twee sokkertoernooie kort ná mekaar behoort baie interessant vir plaaslike sokker te wees.
Die Robinvale Spurs is eerste aan die beurt met ’n eendagtoernooi Saterdag op die Robinvale-sportterrein. Met 16 spanne van reg oor die Wes-Kaap en prysgeld van R5 000 vir die wenner kan sokkerondersteuners die lippe aflek vir goeie vermaak.
Volgens Jerome Februarie is inskrywingsgeld slegs R900 per span en slegs spanne met Safa-Kaapstad-registrasiekaarte neem deel.
Volgens Februarie sal die toernooi ingevolge ligabepalings geskied met vier spanne per afdeling. Die twee topspanne in elke afdeling sal vir die uitspeel rondes kwalifiseer.
Die wedstryde begin stiptelik om 09:00 en die organiseerders vra ondersteuners om hul spanne te kom ondersteun.
Die Aberdeen-sokkerklub gaan ’n Paastoernooi van 16 tot 18 Maart aanbied. Die junior en senior kompetisie sal ook uit 16 spanne per afdeling bestaan. Volgens Ruben Khan sal 16 junior spanne en 16 senior spanne vir prysgeld en toerusting speel. Die senior wenner sal wegstap met R5 000 terwyl die naaswenner R2 500 sal ontvang.
Die junior wenner kry ’n trofee en toerusting wen terwyl die naaswenner toerusting.
Volgens Khan kan enige span wat by ’n plaaslike sokkerliggaam of by Safa geregistreer is, deelneem. Registrasie kos R800, wat die juniors insluit.
Die Paastoernooi sal ook ingevolge ligabepalings beslis word met vier spanne in vier afdelings. Die twee topspanne sal in ’n uitklopronde vir die pryse meeding. . Spanne wat nog wil deelneem, kan die volgende beamptes kontak: Reuben Kahn by 076 644 5233 of per e-pos by reubenb.kahn@gmail.com; Warren Manuel by 060 548 3881 of per e-pos by warrenmanuel1000@gmail.com, of Brian Abraham by 084 622 4243.

