Bewerings van ’n pleitooreenkoms tussen Ruben Swarts en die staat is van alle waarheid ontbloot, het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, bevestig.
Swarts en Nora Grose verskyn tans in die hof op aanklagte van bedrog en geldwassery.
Weskus Nuus het vertroulik verneem dat Swarts dalk ’n artikel 204-getuie teen Grose kan wees. Volgens artikel 204 van die Strafproseswet kan só getuie amnestie vir hul aandeel in ’n misdaad kry mits die hof sy getuienis as geloofwaardig bestempel. Swarts, voorsitter van die organisasie Sarco, het vermoedelik spookwerkers by die departement van arbeid onder die organisasie geregistreer en sodoende Ters-geld geëis wat vermoedelik vir persoonlike gebruik aangewend is.
Grose, op haar beurt, het na bewering dieselfde organisasie gebruik om geld van die Stad Kaapstad, wat vir ’n humanitêre doel aangewend moes word, na ’n kerk in Tableview oor te betaal wat dan kospakkies aan behoeftiges in haar wyk moes verskaf, wat nooit gebeur het. Die kerk het van die geld aan die Stad terugbetaal.
Volgens Ntabalizalila het die verhoor van die twee nog nie begin nie en hy sê geen ooreenkoms is met die staat gesluit nie. Die beskuldigdes, wat Vrydag 11 Maart in die hof was, se saak is tot 13 April uitgestel vir die verdediging om nuwe byvoegings te bestudeer.
Volgens ’n bron na aan die ondersoek is die aanklaer besig om ’n finale klagstaat te formuleer en nog klagtes kan bygevoeg word.




