Al die rugbyspanne van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley het verlede week as oorwinnaars van die veld gestap ná hul kragmeting teen die Hoërskool Sentraal van Bloemfontein.
Wedstryde in rugby, hokkie en netbal was deel van die jaarlikse Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks.
Dit is op Donderdag 7 Mei en Vrydag 8 Mei by Sentraal en op die sportterrein van die Universiteit van die Vrystaat (UV) beslis.

Met die hokkiewedstryde het Diamantveld se meisiespanne in die stof gebyt, terwyl die seuns se eerste span ‘n gelykoptelling van 2 – 2 behaal het. Diamantveld se eerste meisiespan het met 0 – 1 verloor.
Op die netbalbane is hoë tellings aangeteken, met Sentraal wat ook hier oorheers het. Die o.16A- en o.16B-span het egter gelykoptellings van onderskeidelik 12 – 12 en 17 – 17 aangeteken.
In die eerste spanne se rugbywedstryd, wat as ‘n mooi vertoonwedstryd beskryf word, het Diamantveld met 55 – 38 gewen. Die hoogste telling op die rugbyveld is deur Diamantveld se o.16B-span behaal, wat sy Sentraal-eweknie met 60 – 0 geklop het.
LEES OOK: WESGROW SENTRALE SKOLE SPORTREEKS | Tradisie, trots ontmoet
Ongeag die getalle op die telborde bly die Wesgrow-reeks ‘n geleentheid waar vriendskappe gebou en sportmanskap gevier word – iets wat elke jaar as ‘n besonderse voorreg ervaar word.
Diamantveld se volgende kragmeting in dié reeks is op Saterdag 16 Mei in Kimberley, wanneer hy teen die Hoërskool Fichardtpark van Bloemfontein te staan kom.








You must be logged in to post a comment.