‘n Jongboer van die Hexvallei is pas aangewys as nasionale Jongboer van die Jaar vir 2025.
Francois Rossouw van Mooigezicht Estates in die Hexriviervallei is as die nasionale wenner aangewys, ‘n prestasie wat nie net Rossouw se uitnemendheid beklemtoon nie, maar lof bring aan die Wes-Kaapse landbousektor in die geheel.
Hierdie gesogte eerbewys word jaarliks toegeken aan ’n jong boer wat uitmuntende bestuursvernuf, tegniese kundigheid, volhoubare praktyke en leierskap aan die dag lê. Rossouw het hom dié jaar onderskei deur sy toewyding aan vooruitstrewende, tegnologiegedrewe en volhoubare tafeldruifproduksie.
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die provinsie vier hierdie mylpaal met dankbaarheid en trots.
“Om ’n nasionale wenner te lewer is ’n groot voorreg vir die Wes-Kaap. Francois verteenwoordig alles wat ons in jong boere wil sien: uitnemendheid, beginselvaste leierskap en ’n ware roeping om landbou te dien. Sy prestasie bied nie net goeie blootstelling aan die Wes-Kaap en jong boere nie, maar ook aan die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryf.”
Rossouw is bekend vir sy deelnemende bestuurstyl, die vermoë om spanlede te inspireer, en sy onwrikbare fokus op kwaliteit. Sy bestuursfilosofie strek van gevorderde besproeiingstegnologie tot sosiale ontwikkelingsinisiatiewe en gemeenskapsdiens, met ’n holistiese en mensgesentreerde benadering.
Hoofbeoordelaar, Inus Oosthuizen, het Rossouw geloof as ’n waardige wenner: “Francois is nie net ’n uitstaande boer nie, maar ook ’n strateeg, mentor en brugbouer oor generasies en diversiteit. Hierdie positiewe jong innoveerder en leier is nie net ’n inspirasie vir die Wes-Kaap nie, maar vir die hele Suid-Afrikaanse samelewing.”
In sy reaksie op die toekenning het Rossouw dankbaarheid en nederigheid uitgespreek.
“Hierdie erkenning is nie myne alleen nie – dit behoort aan die hele Mooigezicht-span, ons gemeenskap en my familie wat altyd agter my staan. Dit is ’n uitstekende geleentheid om ons plaas, ons streek en die tafeldruifbedryf op ’n nasionale vlak te verteenwoordig. Ek glo die Here lei ons werk, en daarom kan ons met oorgawe bou aan ’n boerdery wat mense se lewens verander.”
Agri Wes-Kaap beskou Rossouw se prestasie as ’n inspirasie vir jong boere regoor Suid-Afrika en ’n bewys dat die provinsie se landbou internasionaal kan meeding. Sy toekenning bevestig nie net sy eie uitnemendheid nie, maar ook die krag, diversiteit en tegniese verfyning van Wes-Kaapse landbou.
LEES OOK: ‘n Boer van die Hexriviervallei is aangewys as Agri Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar






