‘n Boer van die Hexriviervallei, Francois Rossouw, is gisteraand (11 Junie) aangewys as Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar 2025.
Francois, van Mooigezicht Estates, boer met tafeldruiwe op 310 hektaar en is ‘n dinamiese jong leier wat reeds ‘n sleutelrol in sy familieboerdery en gemeenskap speel.
Met sy diepgewortelde toewyding aan volhoubare produksie, mense-ontwikkeling, en tegnologie-gedrewe bestuur, het Francois hom onderskei as ‘n boer met visie én vasberadenheid.
Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, beskryf hom só: “Francois is die soort jong boer wat hoop gee vir die toekoms van landbou in ons provinsie. Sy benadering tot bestuur – van presisieboerdery en tegnologie tot mense-ontwikkeling en gemeenskapsbetrokkenheid – toon ‘n buitengewone balans van kundigheid en menslikheid. Hy is ‘n waardige ambassadeur vir ons provinsie.”
Francois se bestuurstyl is deelnemend en span-gedrewe. Hy werk graag saam eerder as om bloot opdragte te gee. Sy vermoë om onder druk strategies te beplan, en om sy span deur moeilike seisoene met motivering en innovering te lei, het hom uitgelig. Na drie agtereenvolgende uitdagende seisoene met onder meer haelstorms, het hy vinnig aangepas en internasionale markstrategieë herstruktureer––‘n bewys van sy veerkragtigheid en strategiese insig.
“Francois se geïntegreerde bestuurstyl, sy vindingrykheid en sy fokus op mense en kwaliteit het ons beïndruk. Hy is nie net ‘n uitnemende produsent nie, maar ook ‘n leier wat sy span bemagtig en sy gemeenskap dien. Van grondontledings en geoutomatiseerde besproeiing tot gemeenskapsdiens en geloofsgebaseerde waardes––hy bestuur met hart én kop,” aldus Inus Oosthuizen, sameroeper van die beoordelingspaneel.
Volgens Francois is die toekenning ‘n groot eer, maar ook ‘n bevestiging van spanwerk: “Ek sien hierdie erkenning nie net as my eie prestasie nie, maar as ‘n huldeblyk aan elkeen op die plaas wat daagliks hul hande vuil maak. Boerdery is spanwerk, en sonder my span, my familie en die Here, sou ek nie vandag hier gestaan het nie. Ek glo ons boerdery is ‘n roeping––en dit gee vir my ‘n rede om as vierde geslag steeds aan te hou.”
Francois se toekomsvisie sluit in die uitbreiding van bemagtingsinisiatiewe, sosiale ontwikkelingsprojekte vir plaaswerkers en hul kinders, en die vestiging van ‘n nie-winsgewende organisasie om onderwys en ontwikkeling te bevorder.
As provinsiale wenner sal hy Agri Wes-Kaap en die Wes-Kaap verteenwoordig by die nasionale Toyota SA/Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie, waar hy meeding teen die land se beste jong boere.
Agri Wes-Kaap wens hom alle sukses toe op sy pad vorentoe––nie net as boer nie, maar ook as ambassadeur vir verantwoordelike, volhoubare en mensgesentreerde landbou.