Die vloedwaters het lankal weggespoel see toe, maar inwoners in die Breedevallei en Langeberg hanteer steeds die hoofbrekens wat die skade meebring.
Inwoners van McGregor se toegangsroete na Robertson gaan vir minstens nog twee maande onbegaanbaar vir voertuie wees weens skade aan die brug op die MR290-pad tussen die twee dorpe. Die brug, wat oor die Breederivier gebou is, is in 1939 gebou.
Hoewel herstelwerk gou begin het, het die ingenieurs besef dat daar ook skade aan die kantmure van die brug is wat langer sal neem om te herstel. Die Wes-Kaapse Minister van Infrastruktuur, Tertuis Simmers, het gesê hulle beoog om die herstelwerk teen die einde van Augustus te voltooi.
Intussen het die konstruksiemaatskappy Ingonyama Nicon, wat deur die provinsie aangestel is vir die herstelwerk, tydelike trappe vir voetgangers opgerig. Hulle moet dit egter op eie risiko gebruik omdat daar konstruksiewerk aan die gang is.
Die Langeberg-munisipaliteit het voetgangers gemaan om binne die veiligheidsnette te bly sodat hulle nie naby die konstruksiewerk kom nie. Die trappe is deur ‘n gesertifiseerde steierwerk-inspekteur goedgekeur.
McGregor-inwoners reis tans via Bonnievale na Robertson of met ‘n netwerk van ander grondpaaie. Dié alternatiewe roetes verleng hul reistyd aansienlik.
Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, het die brug vroeër in Junie, tesame met ‘n afvaardiging van provinsiale leiers, besoek as deel van ‘n toer van vloedbeskadigde gebiede. Dié brug, ‘n belangrike skakel tussen McGregor, Worcester en Robertson, is ‘n belangrike roete vir boere om hul produkte by die mark te kry. Baie boere in die omgewing, veral sitrusboere, is hard getref deur die vloede en het boorde, bo-grond, pakhuise, kouestore en infrastruktuur verloor, het dr. Meyer gesê.
Suid-Afrika is een van die grootste sitrus-uitvoerders in die wêreld en daarom geniet die herstel van die brug prioriteit, het hy beloof.
Groot herstelwerk lê voor met 233 paaie en brûe wat tydens die storm beskadig is. Die Wes-Kaapse regering het die nasionale regering genader om finansiële hulp vir herstelwerk.
Volgens Meyer word die voorlopige skade aan landbou op meer as R8 miljard geraam, maar sal dit bes moontlik nog styg.





