Wêreld-outismebewusmakingsmaand word jaarliks gevier en bied ons meer insig oor die outismespektrum. Vandag (Donderdag 2 April) spesifiek word Wêreld-outismedag gevier.
Twee ouers, Petra Fredericks en Gaynor Pieters van Vredenburg, het hul ervaring met Weslander gedeel.
Albei het op ‘n vroeë ouderdom kenmerke en tekens by hul kinders agtergekom wat van hul maatjies verskil het. So is Fredericks se seuntjie op twee jaar oud met outisme gediagnoseer en Pieters se seuntjie op drie jaar oud.
Volgens Fredericks was sy en haar man kalm ná die nuus van die diagnose. “Toe ons van outisme hoor, het ons dadelik gaan navorsing doen en gesien dat baie van sy karaktertrekke ooreenstem. Ons het na ‘n pediater se raad geluister en met terapie begin. Dit was egter nie van veel nut nie, al was ons desperaat om ons kind te help. Soos tyd aangestap het, het ons elke dag geleer, want alles is moontlik met die hulp van die Here,” vertel sy.
Pieters meen daar is nie genoeg ondersteuning vir kinders op die outisme-spektrum nie, veral nie met hul spesiale behoeftes nie.
“Ons het alleen in hierdie reis gevoel, veral toe ons seun gediagnoseer is. Niemand het ons gehelp om die situasie te navigeer nie. Toe ons seun met arbeidsterapie by Janke van der Walt begin het, het ons dadelik haar liefde en omgee aangevoel. Sy het ons gehelp en ons so goed as moontlik gelei. Tot vandag toe speel sy ‘n groot rol in ons seun se vordering. Ons voel sterk daaroor dat die Weskus, veral, baie beperk is in ondersteuning, begrip en empatie met kinders met spesiale behoeftes.”

Fredericks deel dieselfde sentiment. “Baie van ons Weskusmense is oningelig rondom outisme. Hulle sien outistiese kinders as ‘mal’ of plein stout. Outisme is in hul oë ‘n siekte. Baie ouers met outistiese kinders is ook huiwerig om met ander ouers met kinders op die spektrum in verbinding te tree. Ons wens is dat die publiek sal besef dat outisme nie ‘n doodsvonnis is nie, en dat mense met outisme ook die reg het om hulself uit te leef en uit te druk.”
Pieters se siening oor Wêreld-outismedag en -maand is dat dit geweldig met bewusmaking help.
“As ons nog een persoon in hierdie lewe kan help of opvoed om ‘n beter toekoms en ‘n vriendeliker lewe vir ons kinders te bou, sal ek bly wees. Hoe meer mense verstaan, hoe meer kan hulle vriendeliker wees. Ek glo dit sal ook daardie ouers help wat wegkruip of sukkel om sekere gedrag te verstaan, om hulself op te voed en hul kind so gou as moontlik te help om die regte ondersteuning te kry.”
Sy voeg by dat outisme en om ‘n kind op die outisme-spektrum te hê, geen skande nie is nie. “Hulle is spesiaal, maar tog so in staat om hierdie lewe te leef met net die regte hoeveelheid vriendelikheid, veiligheid, liefde, sorg, begrip en ondersteuning.”
Albei ouers wil net die beste vir hul kinders hê en moedig ander ouers aan om hul kinders te ondersteun en saam met hulle die reis aan te verg.







You must be logged in to post a comment.