Die Paarlse regsfirma Faure & Faure Inc. sê hy het ‘n diepgaande interne forensiese ondersoek teen ‘n prokureur en voormalige senior vennoot van Wellington, wat die maatskappy glo oor etlike jare van miljoene besteel het, afgehandel en die bevindinge daarvan met die polisie gedeel.
Die regsfirma het reageer nadat Paarl Post aan sy deur gaan klop het met bewerings dat die prokureur steeds praktiseer, selfs nadat Faure & Faure hom verlede jaar by die Wes-Kaapse regspraktisynsraad aangegee het.
‘n Plaaslike advokaat het verlede week aan die koerant gesê hy loop gereeld die regsman, wie se identiteit aan die koerant bekend is, by die howe raak.
“Ek is nie seker vir wie hy nou werk en of hy sy eie ding doen nie.
“Maar dit wys weer eens die dubbelle standaarde. Gewoonlik as sulke bewerings die ronde doen, word jy deur die hof gevra om jou status by die regspraktisynsraad te bevestig voordat jy enigiemand kan verteenwoordig,” sê die advokaat.
Paarl Post het in November verlede jaar berig dat die regsman in April verlede jaar ná ‘n tugverhoor afgedank is, waarna die firma met die ondersoek begin het.
LEES: Wellingtonse regsman vir beweerde bedrog ondersoek
‘n Plaaslike regsgeleerde, wat bekend is met die afgedankte vennoot, het in daardie stadium op voorwaarde van anonimiteit aan die koerant gesê die vennoot, wat in 2011 by die regsfirma aangesluit het, het glo vir etlike jare ‘n fiktiewe “advokaat” geskep aan wie maandelikse betalings gemaak is.
“Die bewerings is dat hy dan fakture sou laat uitmaak vir hierdie ‘advo- kaat’ se dienste wat aan die regsfirma gelewer is. Die vermoede is dus dat hierdie geld dan in een van sy persoonlike rekeninge betaal is.
“Hy betaal boonop ook nie inkomstebelasting op hierdie inkomste nie, want dit gaan as ‘n uitgawe vir die besigheid deur,” het die regsgeleerde verlede jaar verduidelik.
Faure & Faure het vandeesweek by navraag bevestig dat sy interne ondersoek afgehandel en die aangeleentheid reeds na die plaaslike polisiekantoor verwys is.
‘n Gepaardgaande klagte is ook met ‘n versoek dat hy strafregtelik vervolg word, aangemeld.
“Die saak word deur die Paarl-polisie ondersoek en Faure & Faure werk nou saam met die ondersoekbeampte om die ondersoek te voltooi en toe te sien dat hy spoedig voor die hof gedaag word,” het die firma gesê.
Die firma het benadruk dat die afgedankte regsman se “wederregtelike optrede” reeds verlede jaar by die regspraktykraad van die Wes-Kaap aangemeld is.
“Faure & Faure het dus sy verpligting nagekom wat betref die aanmelding van sy wederregtelike optrede.
“Faure & Faure kondoneer hoegenaamd nie sy voortgesette verskyning in die howe nie en het hom in die verlede versoek om dit te staak. Ons het intussen verneem dat hy reeds die regspraktykraad vrywillig ingelig en versoek het om sy naam van die rol van regspraktisyns te verwyder.”
Kabelo Letebele, ‘n woordvoerder vir die nasionale kantoor van die regspraktisynsraad, het by navraag bevestig dat hul rekords toon dat die regsman steeds praktiseer en tans by ‘n ander regsfirma – ook in die Paarlse hoofstraat – werk.
Letebele het ook gesê hy word tans ondersoek, maar wou nie uitwei oor die aard van die ondersoek nie.
Die einste Letebele het in November verlede jaar by navraag aan Paarl Post gesê in 2024 alleen is drie klagtes teen die regsman aangemeld.
Die betrokke regsman kon ná verskeie pogings nie telefonies vir kommentaar bereik word.
Navrae is aan die Paarl-polisie asook die polisie se provinsiale mediakantoor gerig, maar geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.



