Paarl Post het in Julie vanjaar die plaas Limietrivier buite Wellington besoek, waar bewoners ook al vir jare sonder krag en water is. Foto: Rasaad Adams

Die Drakenstein-munisipaliteit sê hy het tot dusver ingetree op slegs vier van die altesaam 14 plase, wat in Junie vanjaar geïdentifiseer en beskryf is as ‘n groeiende humanitêre krisis waar bewoners, insluitend kinders, sonder basiese dienste lewe.

Stephen Korabie, die uitvoerende burgemeester, het verlede week op ‘n raadsvergadering een van sy burgemeesterskomiteelede weer opdrag gegee om die plase te gaan besoek.

Paarl Post het op 27 Junie vanjaar berig dat die raad eenparig ten gunste gestem het van wat hy noem ‘n “inter-regeringsintervensie”, wat hom in staat sou stel om in oorleg met die nasionale en provinsiale regerings hulp aan plase te verleen waar mense sonder krag, water en sanitasiegeriewe woon.

LEES: Bewoners op minstens 14 plase ‘aan eie genade oorgelaat’, Drakenstein tree in

Die departement van arbeid sou ook – as deel van die intervensie – betrokke raak om plaasarbeiders wat “onregmatig” weggewys is, te help.

Die koerant het in daardie stadium twee plase buite Wellington besoek.

Op die plaas Limitrivier woon 10 huisgesinne al vir langer as 10 jaar sonder krag en water.

Op die plaas Ou Ruigtevlei is die situasie erger, waar tientalle huisgesinne feitlik gestrand gelaat is nadat die eienaar meer as 20 jaar gelede uit die land gedeporteer is.

Die munisipaliteit het vandeesweek benadruk dat hy slegs ‘n “fasiliterende rol” vervul en as die “oë en ore” van die ander regeringsfere optree wanneer dit kom by kwessies wat op plase in sy gebied aangemeld word.

“Wanneer ons bewus raak van ‘n probleem op ‘n plaas, besoek ‘n multidissiplinêre span van die munisipaliteit die plaas om die situasie te bepaal.

“Dit is die eerste lyn van assessering, waarna die nasionale regering, die Wes-Kaapse regering en die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit van die kwessies wat elkeen moet hanteer, in kennis gestel word,” het Rita Andreas, die burgemeesterskomiteelid vir kommunikasie, interregeringsverhoudinge en landelike ontwikkeling by navraag gesê.

“Dit kan sosiale, kinderwelsyn- en gesondheidskwessies insluit.”

Andreas sê wanneer ‘n kwessie verband hou met die lewering van basiese dienste, soos toegang tot water, sanitasie of vullisverwydering, sal die munisipaliteit die saak met die eienaar van die plaas bespreek om ‘n oplossing te vind en te verseker dat die eienaar sy of haar verantwoordelikhede nakom.

“Aangesien plase buite die stedelike grens val, lewer die munisipaliteit nie direkte dienste aan plase nie.

“Waar daar egter ‘n noodgeval is of geen eienaar teenwoordig is nie, probeer ons onmiddellike tydelike verligting bied (byvoorbeeld die beskikbaarstelling van ‘n tydelike watertenk), soos ons begroting dit toelaat.

“Tot dusver het die munisipaliteit die volgende plase besoek en daar ingegryp: Leeurivier, Ou Ruigtevlei, Limietrivier en Bellevue.

“Die munisipaliteit help met die voorsiening van water op sommige van die plase.

“Ons het ook die provinsiale departemente van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling sowel as Child Welfare South Africa in kennis gestel van kwes-

sies wat verband hou met die welsyn van kinders en met dwelmmisbruik,” het Andreas verduidelik.

Sy het gesê verdere plaasverwante kwessies sal van geval tot geval hanteer word.

“Die doel van ons optrede is nie om plase te onteien of dit te koop nie, maar om na die welsyn van al die inwoners van Drakenstein om te sien – insluitend ons plaaswerkers en hul kinders, asook ons grondeienaars,” het Andreas benadruk.

Intussen het die groep Concerned Drakenstein Residents (CDR) die munisipaliteit se optrede as niks anders nie as ‘n politieke foefie bestempel.

“Ander politieke partye, wat werklik in voeling is met die realiteit van hierdie plaasbewoners, word nie by die intervensies betrek nie.

“Die waarheid is dat daar geen politieke wil in die DA-regering is om hierdie ding te dryf nie.

“Die burgemeester sê een ding, dan doen sy party die volgende omdat hulle nie almal saamstem dat die lewensgehalte op hierdie plase verbeter moet word nie. Dit is niks anders as ‘n politieke foefie nie,” het die CDR se leier, Bazil Jacobs, gesê.

“Rita Andreas is al vir langer as 10 jaar vir landelike ontwikkeling verantwoordelik, maar ons sien niks ontwikkeling in ons landelike gebiede nie. Dis alles net praat,” het hy bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.