“As jongmens kies ek doelbewus om nie te stem nie … dit is my demokratiese reg.”
Dié jong man se woorde tydens ‘n gesprek oor hoe belangrik dit is om te stem, slaan diep.
Met Suid-Afrika se geskiedenis, hoe durf hy?
Met die stand van sake in ons land, hoe durf hy?
Hoeveel mense het nie hul lewens verloor net vir die reg om te stem nie?
Vandeesweek het ons Jeugdag gevier, die dag waarop duisende jongmense in 1976 opgeruk het, en baie hul lewens verloor het, teen ‘n onregverdige onderwysstelsel.
Die opstand wat gewelddadig geraak het – die bekende foto van Hector Pieterson is in my geheue gegrif – was hul manier om te veg om gehoor te word.
In ‘n era waar slegs ‘n selektiewe handjievol mense die reg gehad het om te stem, was hierdie hul “stem” vir ‘n beter toekoms, een waar hulle self oor hul lot kon besluit.
Nou, hoe dan kan hierdie jong man weier om sy kruisie by die stembus te trek?
Met ‘n tekort aan skole, hoë koste van onderwys, dienslewering wat agteruitgaan (dalk nie so erg in die Kaap soos elders in die land nie), korrupsie en ‘n hoë werkloosheidssyfer, hoe kan hy nie sy sê wil sê ter wille van verbetering nie?
“Hoekom?” word hy gevra.
“Want ek stem nie ooreen met enige van die partye se ideale nie …”
Die realiteit is egter dat verskeie jongmense, dalk selfs die groter meerderheid, dieselfde voel.
Ek het daardie selfde woorde en variasies wat op dieselfde neerkom, al uit ander jongmense se monde gehoor: “Hulle praat nie my taal nie … wegbly is ook ‘n stem, ‘n standpunt.”
Hoeveel politieke partye praat regtig met die jeug?
Vra jy die een hoekom, is hul antwoord: “vir ‘n beter toekoms”. Die ander lê klem op ons land se swaar geskiedenis.
Maar uit ‘n jongeling se oë is nie een van hierdie geldige antwoorde nie.
Nie een van hulle is tydens apartheid gebore nie. Nie een van hulle het daardeur geleef nie. Die geskiedenis is wel vir baie van hulle belangrik, maar dit word nie meer gesien as ‘n geldige rede om ‘n dag op te gee om by die stembus tou te staan nie.
Hul besluite word geneem volgens wat hulle vandag hoor en sien.
Nou, wat dan van ‘n beter toekoms?
Die meeste sien deur die slimpraatjies en leë beloftes van die politici. Hulle sien die dade en die stand van sake in ons land wat getuig van 31 jaar se leë beloftes vir ‘n beter toekoms.
Op sosiale media, die een plek om vandag die jeug te bereik, word die jongelinge ook nie geflous deur dié wat wel daar partypolitiek speel se slim veldtogte nie.
Hulle weet goed die politici spring skielik kort voor ‘n verkiesing aan die werk – luister maar net na ma en pa se gesanik daaroor.
Hulle soek dade by woorde; hulle wil die verandering eers met hul eie oë sien.
Die komende naweek is registrasienaweek vir die opkomende plaaslike verkiesing. En terwyl ek die jeug wil aanmoedig om te stem, is ek bevrees daardie woorde gaan op dowe ore val. Soos die een gesê het: “wegbly is ook ‘n stem”.
My versoek aan die jeug: gaan registreer ten minste. Net ingeval jy teen November wel van plan verander en tog jou kruisie wil trek.
LEES OOK: Goeie Suid-Afrikaners moet wakker skrik voor dit te laat is




