Mense is aanpasbare wesens. Die een wat die vinnigste aanpas, het waarskynlik die beste kans op oorlewing.
Die probleem ontstaan wanneer ons by negatiewe omstandighede aanpas en aanpas en aanpas. Waarskynlik ook ter wille van oorlewing.
Herstelwerk is onlangs aan die plaaslike waterverwerkingsaanleg gedoen. Ons stad was vir meer as vyf aaneenlopende dae sonder water.
Hoewel al hoe meer inwoners vir hierdie soort krisis voorsiening maak, is daar nog baie inwoners wat nie hiertoe in staat is nie.
Asof die vyf aaneenlopende dae sonder water nie ‘n groot genoeg uitdaging is nie, is die watertoevoer in die voorafgaande paar dae ‘n lang ruk onderbreek.
Klaarblyklik omstandighede buite almal se beheer. Soos baie ander uitdagings van vandag.
Wat my opgeval het, is hoe min mense in die verbygaan oor hierdie krisis gesels het.
Daar is gesels oor eksamens wat om die draai is en die winter wat eersdaags in al sy glorie gaan opdaag.
Daar is gesels oor werk en kerk en skool.
Daar is gesels oor siek mense en begrafnisse wat skielik gereël moet word.
Daar is oor sportbyeenkomste en -prestasies gesels.
Hier en daar het iemand iets oor die waterkrisis kwytgeraak, maar dit was so onopmerklik dat dit nie lank die onderwerp van bespreking gebly het nie.
Ek was nie seker of ek bekommerd of bly moet wees oor hierdie waarneming nie.
Aan die een kant beteken dit dalk dat daar groter uitdagings as vyf aaneenlopende dae sonder water is. Aan die ander kant beteken dit dalk dat almal so aangepas het dat hulle dit nie meer as ‘n baie groot krisis ervaar nie.
En as een van hierdie twee gevalle wel die waarheid is, is dit nie op sigself iets om oor bekommerd te wees nie?
Lees nog rubrieke hier.