WJ Kruger (17), ’n biathle-atleet van Bethlehem, in aksie op die Suid-Afrikaanse biathle-kampioenskapsbyeenkoms in Oos-Londen, waar hy in die afdeling vir o.19-seuns gewen het. Foto:


’n Biathle-atleet van Bethlehem het op die nasionale kampioenskapsbyeenkoms gekwalifiseer om volgende maand aan die wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Egipte deel te neem.

WJ Kruger (17), ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, het op 10 Augustus in Oos-Londen aan die Suid-Afrikaanse biathle-kampioenskaps­byeenkoms deelgeneem.

Daar is hy aangewys as die wenner in die afdeling vir o.19-seuns. Hy het sy Protea-kleure verwerf en sal deel wees van die Suid-Afrikaanse span op die wêreldkampioenskapsbyeenkoms van 10 tot 13 Oktober in Port Said, Egipte. WJ sal aan die individuele en ook die gemengde aflosnommers deelneem.

“Ek het verlede jaar die sportsoort vir die eerste keer op die proef gestel. Biathle is ’n multi-dissiplinesport wat hardloop en swem kombineer. Jy hardloop eers, dan swem jy, daarna hardloop jy weer. Afstande wissel afhangende van die ouderdomsgroep,” sê WJ.

Hoewel hy slegs ’n jaar aan die sportsoort deelneem, het hy vinnig uitgeblink en ’n silwermedalje op die nasionale kampioenskapsbyeenkoms se afdeling vir o.17-seuns verower. Toe is hy ook ingesluit in die Suid-Afrikaanse span wat in Bali, Indonesië, aan die wêreldkampioenskapsbyeenkoms deelgeneem het. Hier het hy ’n eerste plek in die uitdunronde behaal, en was hy eindelik tiende in sy afdeling.

Vanjaar sal hy teen ouer atlete en in die o.19-afdeling deelneem. Die afstande is 1 600 m (hardloop), 200 m (swem) en 1 600 m (hardloop). Die hardloop-gedeelte gaan ’n gemengde oppervlak van seesand en teer insluit en deelnemers gaan in die see swem.

“My doelwit vir vanjaar se wêreldkampioenskap is om my plek te verbeter, en ek droom daarvan om ’n medalje huis toe te bring.”

WJ sê hy is dankbaar vir sy afrigters, Casper de Villiers (hardloop) en Tina Nel (swem), wat ’n sleutelrol in sy prestasies speel. Ses dae van die week hardloop hy, en hy swem oor twee dae vir oefening. Kruger is ook ’n kranige landloopatleet wat in die afgelope twee jaar sy provinsiale kleure verwerf het. Hy is vanjaar op die Vrystaat-skoleatletiekbyeenkoms as die kampioen in die 800 m en 1 500 m gekroon.

“Ek geniet biathle ongelooflik. Dit is ’n sportsoort wat ek lewenslank kan beoefen. Die oudste atleet wat al op nasionale vlak deelgeneem het, was 83 jaar oud.”

Sy rolmodel is die Amerikaanse swemmer Michael Phelps, wat 82 internasionale medaljes verower het, asook die meeste goue medaljes, 23, op die Olimpiese Spele.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article