Atletiekspan maak skoonskip
Tydens die Baan en Veld-atletiekkampioenskappe wat by die Universiteit van Johannesburg voor verlede week plaasgevind het, is die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, se meisies atlete as die nommer een atletiekspan in Suid-Afrika gekroon.

Die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, se meisies atlete is as die nommer een atletiekspan in Suid-Afrika gekroon tydens die Baan en Veld-atletiekkampioenskappe wat by die Universiteit van Johannesburg, aangebied is.

As die algehele wenners het die meisies nie net ‘n trofee nie, maar ook R 50 000 vir hul skool gewen.

Voortrekker se  atlete het vinnig op die atletiekbaan gewys hul is ‘n span om mee rekening te hou tydens die byeenkoms, wat vanaf Donderdag, 10 April plaasgevind het. Die meisies het op die eerste dag al voorgeloop en het 739 punte ingeoes om as die algehele wenners gekroon te word.    

Carise van Rooyen, van Voortrekker het weer skoonskip gemaak in die 800 m vir meisies o.19, wat sy met ‘n tyd van 2:07.93 gewen het. Van Rooyen het ‘n besonderse atletiekseisoen beleef, sy het in Maart ‘n nuwe Vrystaat-rekord opgestel in die 800 m, en die rekord verbeter van 2:13:22 na 2:08:21. Lisa Kruger, het ook die 800 m vir meisies o.15,  met ‘n tyd van 2:13.33 gewen.

Nie net was die meisies eerste nie, maar die seunsatlete het in die algehele vierde plek op die byeenkoms geëindig.

In Maart vanjaar is Voortrekker vir die agtste agtereenvolgende jaar as die algehele wenners van die Vrystaat Interhoër atletiekkampioenskappe wat in Sasolburg plaasgevind het, aangewys. Tydens die byeenkoms het Voortrekker uit die 185 skole wat deelgeneem het, die atletiekbaan oorheers en 77 medaljes verower.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article