STEYNSRUS – Die Heilbron-veediefstal- en bedreigde-spesies-eenheid ondersoek die diefstal van 45 skape op ‘n plaas naby Steynsrus.
Volgens die polisie was daar tydens ‘n telling op Vrydag 28 Augustus 186 SA Meat Merino-skape op die plaas Rietvlei – 85 ooie en 101 lammers.
Toe die skape die volgende dag weer getel is, was daar slegs 141 oor. Dit het uit 69 ooie en 72 lammers bestaan.
Altesaam 45 skape – 16 ooie en 29 lammers – kon nie gevind word nie. Die gesamentlike waarde van die vermiste skape word op sowat R151 000 geraam.
Die polisie het bevestig dat sommige van die vermiste skape na bewering langs die Steynsrus-Arlington-grondpad gevind is. Die diere het met afgesnyde kele daar gelê.
Die omstandighede rondom die verdwyning van die skape en die dood van die diere word ondersoek.
Fritz Joubert (54), die plaaseienaar, het gesê hy vermoed dat meer as opportunistiese veediefstal ter sprake kan wees.
“Dit is nie die gewone diefstal vir potslagting waar slegs twee of drie skape gesteel en geslag word nie. Hier is 45 skape gesteel,” het hy gesê.
Volgens Joubert het veediefstal die afgelope ses tot sewe maande ‘n toenemende probleem vir boere in die Steynsrus-omgewing geword. Hy het gesê boere se berekeninge dui daarop dat bykans 280 skape die afgelope paar maande in die gebied gesteel is.

Dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis by Vrystaat Landbou, het gesê die voorval is ‘n groot finansiële verlies vir die boer.
Vrystaat Landbou het ‘n beroep op die polisie gedoen om die verdagtes te identifiseer, in hegtenis te neem en voor die hof te bring.
Buys het ‘n beroep op gemeenskappe gedoen om waaksaam te wees en enige inligting wat kan help om die verdagtes te identifiseer en op te spoor, aan die polisie deur te gee.
‘n Saak van veediefstal is by die Steynsrus-polisiekantoor geopen.
Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand wat oor inligting beskik om AO Henry Greeff by 082 627 7577 te kontak. Inligting kan ook anoniem via die MySAPS-toepassing of SAPS Crime Stop by 08600 10111 verskaf word.




You must be logged in to post a comment.