JW Eksteen, 'n veearts van Kroonstad, is op 9 Februarie deur ’n buffel op ’n wildsplaas buite Clocolan beseer.
JW Eksteen, ‘n veearts van Kroonstad, is op 9 Februarie deur ’n buffel op ’n wildsplaas buite Clocolan beseer. FOTO: Verskaf

Die familie van dr. JW Eksteen (51), ’n bekende veearts van Kroonstad, het vanoggend bevestig dat sy toestand steeds kritiek, maar stabiel is ná ‘n voorval op ‘n wildsplaas buite Clocolan.

Eksteen is in dié voorval op Maandag 9 Februarie ernstig deur ‘n buffel beseer.

“JW se toestand bly kritiek, maar is stabiel, en hy ontvang voortgesette, gespesialiseerde mediese behandeling by die MediClinic Bloemfontein,” het Danie Minnaar van Kroonstad, die familie se woordvoerder, vanoggend in ‘n persverklaring bevestig.

LEES OOK: Mediese span kry man blitsvinnig in teater ná buffel-voorval

Volgens beskikbare inligting is Eksteen onmiddellik ná die voorval na drs. Joubert en Beeton in Clocolan geneem, waar hy behandel en gestabiliseer is. Hy is daarna per helikopter na die Mediclinic Bloemfontein vervoer vir verdere behandeling. Dr. Braam Joubert het hom tydens die oordrag na Bloemfontein vergesel. 

Boodskappe van medelye en ondersteuning het van oraloor op die sosiale media ingestroom nadat nuus van die voorval bekend geword het.

In die verklaring op 16 Februarie het die familie hul opregte dank uitgespreek vir die oorweldigende ondersteuning, omgee en gebede wat hulle van die publiek, kollegas en die gemeenskap ontvang het gedurende hierdie uitdagende tyd.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article