Granietgrafstene by die Utopia-begraafplaas in Bethlehem is met geweld omgestamp, wat families van oorledenes diep ontstel het.
Granietgrafstene by die Utopia-begraafplaas in Bethlehem is met geweld omgestamp, wat families van oorledenes diep ontstel het. FOTO: Verskaf

’n Ontstellende toneel was onlangs in die Utopia-begraafplaas in Bethlehem te sien toe verskeie grafte deur boosdoeners geskend is. Granietgrafstene is met geweld omgestamp en beskadig.

Volgens Willie Theunissen, DA-raadslid van die Dihlabeng-munispaliteit, het hy op Woensdag 4 Maart op die skokkende toneel afgekom tydens ’n oorsigbesoek aan die begraafplaas.

Verskeie grafte van geliefdes is geskend, en die DA dring aan op verskerpte sekuriteit.
Vandalisme het weer die Utopia-begraafplaas in Bethlehem getref. Verskeie grafte van geliefdes is geskend, en die DA dring aan op verskerpte sekuriteit; terwyl die gemeenskap versoek word om verdagte aktiwiteit aan te meld. FOTO: Verskaf

“Ons is diep ontsteld. Dit is ’n skending van die nagedagtenis van dié wat daar begrawe lê en uiters ontstellend vir hul familie. Dit is hartseer om te dink dat sulke barbaarse vandale in ons samelewing voorkom – dit terwyl sekuriteit veronderstel is om toesig te hou,” sê Theunissen.

Hy het bygevoeg dat bewusmaking oor die voorval deur middel van ’n Afrikaanse en Engelse video op die sosiale media gedeel sal word. 

‘n Dringende vergadering met die betrokke afdeling van die Dihlabeng-munisipaliteit sal belê word om die pad vorentoe te bespreek. Raadslid Eric Motloung van die DA sê hulle het ook ’n versoek aan AfriForum se buurtwag gerig om met patrollies by die begraafplaas te help.

“Ons dring aan op verskerpte sekuriteit en die aanbring van hoë, roterende ligte,” sê hy.

Voorstelle sal op ‘n openbare vergadering bespreek word, wat binnekort byeengeroep sal word.

Dihlabeng het in ‘n verklaring gesê vandalisme en die kwaadwillige beskadiging van die grafstene is ’n uitdaging; en ’n kwessie wat opgelos was, maar weer stil-stil kop uitgesteek het.

’n Saak is intussen by die SAPD ingedien oor die week se voorval. Die munisipaliteit kon verlede jaar Oktober in samewerking met die gekontrakteerde sekuriteitsmaatskappy, die polisie en lede van die gemeenskap van die skuldigdes vasgetrek, het die verklaring gelui.

’n Ernstige beroep word egter op lede van die gemeenskap gedoen om inligting rakende die voorvalle onmiddelik aan te meld.   

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article