Ná 18 jaar as die hospitaalbestuurder van die Netcare Kroon Hospitaal in Kroonstad, het Tommie Hugo die tuig neergelê.
Dié boorling van die Noord-Wes het op Vrydag 28 November, ná 18 jaar as bestuurder van die hospitaal, afgetree. Hugo wat voorheen vir 23 jaar in die onderwys was, sê die hospitaal het daagliks verskeie en unieke uitdagings gebied, maar dat hy elke oomblik daarvan geniet het. Sy ingebore passie en liefde vir mense het sy beroep maklik gemaak.
“Ek was so bevoorreg om daaglik met ‘n puik span van uitnemendheid saam te werk, hulle lê my baie na aan die hart.”
Hugo sê die grootste werksbevrediging vir hom was om die herstelproses van pasiënte van opname tot ontslag te kon beleef. Ronél Aucamp sal tot einde Januarie as die hospitaalbestuurder waarneem. André Oosthuizen, die huidige hospitaalbestuurder van Netcare Universitas en die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein, sal op 1 Februarie amptelik oorneem as die nuwe hospitaalbestuurder.
Hugo sê hy en sy vrou, Hilletje, gaan in Kroonstad aanbly want hulle is lief vir die dorp en sy mense. Hy gaan nie op die stoep sit nie: hy het ‘n nuwe sakeonderneming, T H Leadership, begin. Die onderneming gee hoofsaaklik strategiese beplanning en bestuursopleiding aan sakeondernemings en skole.
Hugo het sy skoolloop aan die Laerskool Baillie Park begin en aan die Hoër Volkskool in Potchefstroom gematrikuleer. Ná skool het hy onderwys in Potchefstroom studeer. Hy was vir 23 jaar in die onderwys en vir 10 jaar die skoolhoof van die Kroonheuwel Primêre Skool in Kroonstad. Daarna het hy by Netcare Kroon Hospitaal as begin werk.
“Die noue spanwerk tussen my, die personeel, die dokters en die professionele ondersteuningsdienste asook die kosbare geleentheid om met die pasiënte te kommunikeer gaan ek vir seker mis,” sê hy.





