Die Vrystaat is ná vyf agtereenvolgende jare as die topprovinsie in die land onttroon. KwaZulu-Natal is nou eerste en die Vrystaat staan in die tweede plek met ‘n slaagsyfer van 89,3%.
VrystaatKroon het by van die topmatrikulante gaan inloer om meer oor hulle toekomsplanne uit te vind.
Die 18-jarige Ané van Zyl die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem is dié skool se toppresteerder. Sy spog met nege onderskeidings in Afrikaans, Engels, Duits, lewensoriëntering, rekeningkunde, wiskunde, rekenaarwetenskap, lewenswetenskappe en in alpha-wiskunde wat sy as ekstra vak geneem het.
“Ek was baie verras oor my uitslae, maar so dankbaar en baie opgewonde dit is bloot net genade,” sê sy.
Die slimkop beoog om medies aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein te studeer. Sy is sien baie uit na die nuwe hoofstuk in haar lewe.

Kort op Ané se hakke, is Marilie Terblanche (18) ook van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem. Sy het sewe onderskeidings behaal en is die matrikulant van Voortrekker wat met die hoogste gemiddeld in 2025 geslaag het.
“Ek is opreg dankbaar en dit was ‘n besonderse oomblik toe ek die nuus ontvang het. Ek besef harde werk, deursettingsvermoë en ondersteuning het die prestasie moontlik gemaak.”
Sy gaan meganiese ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU) van Potchefstroom studeer. Ek sien met opgewondenheid en verwagting uit na hierdie volgende fase van my lewe. Dit is die perfekte geleentheid om te groei, nuwe mense te ontmoet en om elke nuwe uitdaging met ’n oop gemoed aan te pak.”

Amy Kotzé (18) dra die kroon as die Hoërskool Witteberg se topmatrikulant vir die 2025-matriekeindeksamen.
“Ek het die prestasie glad nie verwag nie en is so dankbaar. Ek was stomgeslaan toe ek die nuus ontvang het,” sê Amy.
Sy het onderskeidings in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, rekeningkunde, wiskunde, ekonomie, lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe behaal. Amy beplan om die jaar BCom Rek (CA) aan die Noordwes-Universiteit (NWU) van Potchefstroom te studeer.
“Ek is opgewonde om my horisonne te verbreed en sien baie uit na die nuwe uitdaging in my lewe.”

Die 18-jarige Samantha Mynhardt is die Hoërskool Trio in Kroonstad se topmatrikulant. Samantha spog met agt onderskeidings in onderskeidelik Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, wiskunde, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, rekeningkunde en alpha-wiskunde.
“Al die laatnagte, opofferings en tye wat ek hard gewerk het, was verseker die moeite werd. Ek is baie dankbaar vir my ouers, onderwysers en vriende vir hulle ondersteuning om die prestasie moontlik te maak.”
Samantha gaan ook medies aan die Universiteit van die Vrystaat studeer.
“Al voel die toekoms vreesaanjaend omdat alles onbekend is, is dit tog opwindend. Ek sien baie uit na die jaar wat voorlê en ek is dankbaar vir die krag en geleenthede wat die Hemelse Vader my geskenk het.”







You must be logged in to post a comment.