Nelmari Barnard pronk met haar eerste digbundel, Die dans oor die Lewenskoord, wat onlangs verskyn het nadat haar werk reeds in verskeie nasionale bloemlesings opgeneem is. FOTO: Verskaf

Spraakterapeut se skryfdroom word ná jare ‘n werklikheid met digbundel

Nelmari Barnard pronk met haar eerste digbundel, Die dans oor die Lewenskoord, wat onlangs verskyn het nadat haar werk reeds in verskeie nasionale bloemlesings opgeneem is. FOTO: Verskaf

Ná jare waarin haar gedigte in bloemlesings verskyn het en haar woorde lesers landwyd geraak het, het die Kroonstadse spraakterapeut Nelmari Barnard haar eerste digbundel, Die dans oor die Lewenskoord, uitgegee.

Die bundel is die verwesenliking van ‘n skryfdroom wat enkele jare gelede onverwags begin ontvou het en nou in 52 gedigte beslag gekry het.

Vir Barnard (52), wat as senior onderwyskundige en die enigste spraakterapeut in die Fezile Dabi-distrik werk, is skryf veel meer as ‘n stokperdjie. Dit is ‘n manier om die lewe, die natuur en die menslike ervaring in woorde vas te vang.

Sy het in Kroonstad grootgeword en in 1991 aan die Hoërskool Kroonstad gematrikuleer voordat sy B. Kommunikasiepatologie-kwalifikasie aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf het.

Ná vier jaar as nywerheidsoudioloog in Johannesburg, waar sy meer as 52 000 gehoortoetse afgeneem het, het sy in 2000 na haar tuisdorp teruggekeer. Sedertdien dien sy die Vrystaatse onderwysdepartement as senior onderwyskundige by distriksondersteuningsdienste.

As die enigste spraakterapeut in die span ondersteun sy skole in al 15 dorpe van die Fezile Dabi-distrik, wat haar gereeld op lang, stil paaie neem waar baie van haar beste idees ontstaan.

Hoewel sy reeds op skool aan opstelkompetisies deelgeneem het, het haar ernstige skryfreis eers in 2020 begin toe sy kinderstories begin skryf en illustreer het. In September dieselfde jaar het haar eerste gedig onverwags sy ontstaan gevind.

“Halfpad oor die S-brug hier in Kroonstad het die woorde skielik net gekom,” vertel sy.

Sy het afgetrek, ‘n stemnota gemaak en die gedig later tuis neergeskryf – ‘n metode wat vandag steeds deel van haar skryfproses vorm. Haar liefde vir taal is reeds vroeg deur haar pa Johannes Barnard aangewakker. Sy uitgebreide biblioteek en voorlesings uit onder meer Kambrokind, Poens en Raka het ‘n blywende indruk gelaat en haar liefde vir Afrikaans laat groei.

Die afsterwe van haar pa in Mei 2021 sou ‘n keerpunt word. Om hulde aan hom te bring, het sy ses gedigte vir drie nasionale digkompetisies ingestuur. Tot haar verbasing is al ses aanvaar vir publikasie. Sedertdien het haar digloopbaan vinnig momentum gekry. Altesaam 39 van haar gedigte is reeds in nege bloemlesings en op die webwerf Skryf in Afrikaans gepubliseer.

Haar inskrywings is sedert 2022 elke jaar as afdelingwenners vir die Stemme uit die Suiderland-kompetisie genomineer. Nog ‘n hoogtepunt het vroeër vanjaar gevolg toe die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) haar as een van die ontvangers van ‘n publikasieprys aangewys het.

Die toekenning, wat in samewerking met Groep 7 Drukkers aangebied word, bied jaarliks aan ‘n klein groepie digters die geleentheid om hul eie bundels uit te gee. Die resultaat is Die dans oor die Lewenskoord, ‘n bundel van 69 bladsye.

Die natuur dien dikwels as inspirasie vir haar skryfwerk. Storms, die Vrystaatse landskap en die ritme van die seisoene vind gereeld neerslag in haar verse, terwyl sommige gedigte soos kortverhale ontvou en die leser op ‘n reis deur tyd neem.

Hoewel haar eerste digbundel pas die lig gesien het, speel Barnard met idees vir ‘n bundel kortverhale wat moontlik gedigte, sketse en prosawerk sal kombineer, maar sê sy verkies om nie te ver vooruit te beplan nie.

“Mens loop die gevaar om interessante afdraaipaaie wat na nuwe wonderwêrelde lei, mis te loop,” sê sy.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article