Skole in Betlehem se sportsterre op spogdinee in Bloemfontein vereer


Vier skolesportsterre uit die Oos-Vrystaat is vanjaar op Novus Media en die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Vrystaat Sportsterre-geleentheid vereer. Hulle het eerbewyse ontvang op ‘n spoggerige geleentheid wat begin Oktober in Bloemfontein gehou is.

Amy Kotzé (18), ‘n atleet aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem, is vir driesprong benoem; sy was algeheel derde op die nasionale skole-atletiekbyeenkoms. Amy neem al sedert gr.8 aan dié sportsoort deel en word deur haar ma, Yolanda, afgerig.

Leibrandt Swart (17) van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem is ‘n skut wat vir sy deelname aan die wêreldkampioenskapbyeenkoms in handwapens en skiet vereer is. Daar was hy vyfde op die wêreldranglys vir juniors, en het hy plek in die wêreld se top 50 in die produksie-afdeling verwerf.

Leibrandt word deur Johnny Loupellis van die Frontier-skietklub in Stilfontein afgerig.

Die 18-jarige Mieke Louise Britz, ‘n 800m- en 1500m-atleet van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, is vir haar deelname in dié twee atletieknommers by die nasionale kampioenskapsbyeenkoms vereer.

Sy word deur Casper de Villiers afgerig. Carise van Rooyen (18) van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem is ‘n baan- en ‘n landloopatleet.

Sy is vereer vir haar deelname aan die wêreld-junior-kampioenskaps-byeenkoms (o.23) wat verlede jaar in Peru plaasgevind het, asook vir haar deelname aan die o.20- Afrika -atletiekkampioenskapsbyeenkoms wat vanjaar in Nigerië plaasgevind het.

Sy word deur Ilse Wicksell van die Universiteit van Pretoria (UP) afgerig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article