Vrystaat Landbou (VL) het ‘n vergadering met grensboere in die Wepener en Boesmanskop/Zastron-gebied bygewoon waar die rehabilitasie van die grenspad tussen Suid-Afrika en Lesotho bespreek is.
Op Maandag 29 September het boere tydens die vergadering eenparig beswaar teen ’n rybare grenspad gemaak.
Francois Wilken, president van VL, sê boere vra al dekades lank dat die grenspad herstel moet word op ’n manier wat die veiligheid van boere en plaasgemeenskappe sal verseker.
Volgens VL is die realiteit dat nie die provinsiale of nasionale regerings die versoek prioritiseer nie. Hulle sê die ministers van landbou, binnelandse sake en openbare werke en infrastruktuur het drie keer besoeke aan die grens uitgestel, ondanks dringende veiligheidskwessies.
Boere is van mening dat ’n rybare grenspad vir die volgende redes gevaarlik is:
- Kriminele groeperings uit Lesotho wat baie tyd op hande het en al herhaaldelik heinings en paaie afgebreek of met klippe versper het.
- Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) weier om die klippe te verwyder en daarom twyfel boere of ’n pad die patrolering deur die weermag die probleem sal oplos.
- ’n Rybare grenspad kan sindikate en misdaadgroepe in staat stel om vinniger en meer gereeld gesteelde vee en ander eiendom oor die grens te vervoer. Dit verhoog risiko’s en plaas die veiligheid van boere en landelike gemeenskappe in nog groter gevaar.
Wilken noem verder dat boere eerder versoek dat die bestaande toegangsroetes na die grens beter in stand gehou word vir noodgevalle, en dat moderne tegnologie beskikbaar gestel word om hulle ’n voorsprong teen misdadigers te gee.
’n Betroubare selfoonsein is hiervoor noodsaaklik. VL het bevestig dat hulle ná talle skrywes ’n vergadering met die minister van kommunikasie verkry het om die ICASA-reëling te bespreek wat tans verhoed dat selfoonmaatskappye sein oor die grens kan uitstraal.
Hierdie beperking veroorsaak dat daar op baie plekke langs die landsgrense geen selfoonsein is nie. VL ondersteun hierdie versoek en sal dit aktief saam met relevante rolspelers help bevorder.
“Ons boere se veiligheid kan nie langer geïgnoreer word nie. Oplossings lê nie in ’n rybare grenspad nie, maar in beter toerusting en tegnologie wat misdaad kan voorkom,” sê Wilken.




