Die voortslepende probleem van veldbrande op plase langs die Lesotho-grens, in die oorgrote meerderheid van gevalle vermoedelik weens brandstigting, wek groot kommer.
Van 14 tot 16 Julie is sewe veldbrande binne ’n radius van 20 km in die Boesmanskop-gebied, naby Wepener en Zastron, gestig. Boere het groot skade gely en kosbare weiding, vee en infrastruktuur het in die slag gebly.
Vrystaat Landbou (VL) sê in ‘n verklaring die kommer behels nie net die ekonomiese verliese nie; ook veiligheid en oorlewing en dat grensboere met groot verliese, trauma en gevaar te kampe het. Die boere leef daagliks met die vrees dat hul plaas en familie die volgende teiken sal wees, sê dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL.
“In 2024 moes hierdie boere 57 brande in net twee maande bestry. Al die brande is kwaadwillig deur Basotho’s gestig,” sê Buys.
Gerard Jordaan, ‘n boer van Boesmanskop, meen daar bestaan onder burgers van Lesotho ‘n wanpersepsie dat veld afgebrand moet word om nuwe, groen weiding na afloop van die eerste reën te verseker.
“Hulle jaag dan hul vee oor die grens om op Suid-Afrikaanse plase te kom wei, iets wat onwettig is,” sê hy.
Buys bevestig dat VL reeds ’n dringende versoek aan die LUR’e vir landbou en gemeenskapsveiligheid, die departement van paaie en wervoer, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en die SAPD gerig het om met hul eweknieë in Lesotho te skakel ten einde bewustheid in dorpe en nedersettings aan die ander kant van die grens te skep oor die wetteloosheid en gevolge van die brande.
“Die probleem word verder vererger deurdat die Working on Fire-span in Van Stadensrus grensboere nie kan bystaan nie, aangesien die grenspad heeltemal onbegaanbaar is. Dit is onmoontlik vir noodvoertuie en toerusting om die betrokke gebiede te bereik. Die probleem is reeds in 2024 aan twee LUR’e uitgewys tydens ‘n besoek aan die grens,” sê Buys
Boere op die grens moet noodgedwonge na hulle eie veiligheid omsien, brande bestry en paaie in stand hou. Dit terwyl hulle heeltyds boer.
VL doen ‘n ernstige beroep op die minister van openbare werke om die herstel van die grenspad as ‘n voorkeursaak te hanteer.
“Sonder toegang tot die grens kan brande onbeheerbaar raak en selfs tot lewensverlies lei,” waarsku Buys.
Intussen raai dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, alle boere aan om op hoë gereedheidsvlak te wees met die naderende veldbrandseisoen in gedagte; ook om aktief by hul plaaslike brandbeskermingsvereniging (BBV) in te skakel.


