BLOEMFONTEIN. Dit was ‘n naelbyt-netbaleindstryd, maar in die laaste vyf minute was dit duidelik dat die span van die Noordwes-Universiteit vanjaar se Varsitybekerkroon met mag en mening wou hê.
Ná Kovsies se oorwinning oor die Universiteit van Stellenbosch (Maties) in verlede week se semi-finaal in die Callie Human-sentrum in Bloemfontein, het dit aanvanklik gelyk of Kovsies baie gemaklik speel. Die Arende van NWU het egter in die Kovsies se nekke geblaas met die telling ná die eerste kwart op 13-12 vir Kovsies.
Ook die telling teen halftyd was baie gelykop met Kovsies wat net-net met 26-24 voorgeloop het.
Teen die derde kwart het die gaping ‘n bietjie gerek met Kovsies wat met 39-34 op die telbord gaan asem skep het.

In die heel laaste kwart het die NWU eers gelyk gemaak en daarna die Kovsies gestoomroller om die Varsitybeker die eerste keer in nege jaar omhoog te hou met ‘n eindtelling van 57-49 vir NWU.
Die netbalspan van die NWU het baie om te vier. Die laaste keer dat die twee spanne mekaar in ‘n eindstryd ontmoet het, was in 2013 toe Kovsies met vier doele gewen het.
Die NWU het die titel in 2015 en 2016 gewen, terwyl Kovsies in 2013, 2014, 2018, 2021 en 2024 die wenspan was.
Vir die span van die NWU sal die oorwinning besonder soet wees, veral nadat Kovsies hulle in ‘n uitspeelwedstryd van die Varsitybeker op 8 September met 83 − 59 geklop het.





You must be logged in to post a comment.