Wêreld-prematuurdag is by verskeie hospitale en klinieke gevier en Beanies4Babies het hulle projek by die Boitumelo-streekhospitaal in Kroonstad se neonatale eenheid geloods ter viering van die dag.
Op Donderdag 20 November, het Beanies4Babies ‘n niewinsgewende organisasie, hulle projek by die Boitumelo hospitaal ter viering van wêreld-prematuurdag geloods.
Die organisasie streef daarna om hipotermie, ‘n liggaamstemperatuur onder 36,5°C, te help voorkom in babas wat met ‘n liggaamsmassa van minder as 2,5kg gebore word.
Dit is veral krities gedurende die eerste 12 uur ná geboorte en daarom moet die babas direk ná geboorte met ‘n mussie en kousies bedek word.
Die projek is aanvanklik in 2018 deur dr. Johané Palko en Clarette Alfond in Bloemfontein van stapel gestuur. As vierdejaar-geneeskundestudent het Palko die nood raakgesien om hierdie kwesbare groep babas beter teen koue te beskerm.
Lae geboortegewig-babas (minder as 2,5kg) en veral prematuurgebore babas is geneig tot hipotermie weens verskeie redes:
■ Hulle kopomtrek beslaan ‘n groot deel van hul liggaamsoppervlakte.
■ Hulle velletjies is baie dun.
■ Hulle het beperkte vetreserwes om energie vir hitte op te wek.
■ Hulle kan nie bewe soos volwassenes nie.
Dr. Palko sê die verantwoordelikheid rus op hulle as gesondheidswerkers met die hulp van die gemeenskap om die baba te help beskerm en warm te hou. Die projek funksioneer reeds in vyf provinsies en verskaf meer as 2 000 produkte per maand aan fasiliteite regoor die land.
“Ons almal weet hoe snerpend koud die Kroonstad-winters kan wees, daarom vra ek met ‘n nederige hart vir my tuisdorp om die projek te ondersteun. Dit is ‘n voorreg om terug te kan gee aan die dorp wat al soveel aan my gegee het, en dat my ma die projek namens die organisasie hier kan dryf,” sê Palko.
As ‘n niewinsgewende organisasie is hulle afhanklik van die gemeenskap vir vrywilligers om produkte te maak, asook vir finansiële donasies om wol, sakkies en plakkers aan te koop.
Hulle benodig ook vrywilligers om produkte te brei of te hekel, en dit dan te verpak. Die projekleiers voorsien die wol en verpakkingsmateriaal. Patrone is beskikbaar, en kan afgelaai word op hul webtuiste, beanies4babies.org/patterns/
Belangstellendes wat wil betrokke raak kan vir Christa Potgieter kontak of via die webtuiste uitreik.





