Die gesegde ” ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees” word keer op keer deur die 85-jarige Wynand Botes, ‘n inwoner van Kroonstad, bewys.

Hy skroom nie om op sy gevorderde ouderdom op sy fiets te klim om verskeie takies in die dorp af te handel nie. Botes woon sowat 4km vanaf die Kroonstad-middedorp en geniet dit om weekliks met die fiets dorp toe te ry.

“Ek is dankbaar dat ek nie sieklik is nie. Ons probeer so ver as moontlik om ‘n gesonde leefstyl te handhaaf. Ek drink my hele lewe lank baie melk en het nog nooit alkohol gebruik nie,” sê hy.

Wynand is ‘n boorling van Koppies en het in Delmas grootgeword. Ná skool het hy vir meer as 12 jaar as ‘n takbokboer in Zimbabwe gewerk, waarna hy hom weer in Suid-Afrika gevestig het. Tot en met sy aftrede, op 78-jarige ouderdom, het hy as verteenwoordiger en verspreider van landbouchemiese middels gewerk.

Hy is getroud met Elda (76), en die egpaar spog met vyf kinders en 10 kleinkinders. Kroonstad is al die afgelope 44 jaar hul tuiste.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article