In Eksodus 7:13 staan geskryf: Tog het die farao koppig gebly en nie aan hulle versoek gehoor gegee nie, net soos die Here vooraf gesê het.
Kan ons iets doen as God klaar besluit het?
Hierdie gedeelte kan baie verwarrend wees totdat ons die volgende verstaan: God het geweet dat sy ingryping farao hardkoppig sou maak. Nie omdat God dit beskik het nie, maar omdat die farao ‘n verharde en wrede man was. Dit is die reddingsdade van God wat hierdie reeds onbuigsame man nog hardkoppiger maak.
God wil verlos en red, maar die pad van God maak baie mense koppig, omdat dit indruis teen die pad wat hulle wil stap.
God sal tog nie ‘n keuse stel en ons dan keer om die regte besluit te neem nie. Daarom is dit baie verkeerd om te sê: Ek kan nie anders nie. Dit is hoe ek grootgeword het. Ek is nou maar so. Dan sê jy eintlik: God, wat my gemaak het, weerhou my van regte keuses.
Nee, Vader het sy Seun en die Woord gegee, redding en waarheid oor lewe. Net Hy kan dit doen. Wat ek kan doen is om my hart sag te maak en ander aan te moedig om dit ook te doen. Hebreërs 3:13: Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.
Jy is vandag waar jy is oor keuses. Wat doen jy met God se plan vir jou?
Gebed
Here Jesus, ek bely dat ek sekere gedeeltes van my lewe vir U toesluit. Dit is my keuse en nie u beskikking nie.
Maak my nederig voor u plan vir uittog van sonde se ewige pyn en probleme.
Amen
■ Els is ‘n oudleraar van Kroonstad.



