Graham van Zyl (41), ‘n geliefde onderwyser van Kroonstad, is op 14 November in die hospitaal dood − vermoedelik aan hartversaking. FOTO: Verskaf

‘n Geliefde en gewilde onderwyser van Kroonstad is skielik oorlede.

Die 41-jarige Graham Van Zyl, ‘n boorling van Kroonstad, is op Vrydag 14 November vermoedelik aan hartversaking en ‘n tekort aan suurstof dood.

Van Zyl het gesondheidsuitdagings gehad en is in die hospitaal opgeneem voordat hy dood is.

Hy was ongetroud en het as onderwyser die kinders by die skool as sy eie beskou.

Sy onderwysloopbaan het aan die Johan Slabbert-skool in Kroonstad begin, en hy was aan die Kroon Primary School verbonde ten tyde van sy dood.

Van Zyl het aan die destydse Hoërskool Kroonstad (Blouskool) matrikuleer en ná skool homself as onderwyser aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom bekwaam.

Sy familie en vriende beskryf hom as ‘n goeie en geliefde man en ‘n gewilde onderwyser.

“Graham het altyd tyd gemaak vir sy medemens. Dit was vir hom belangrik om ‘n verskil te maak waar hy kan.

“Hy was ‘n opregte mens met ‘n liefde en passie vir sy familie, vriende en die kinders by die skool.

“Om saam met sy familie en vriende te kuier en almal te bederf was vir hom heerlik,” sê sy jongste broer, Morné van Zyl, wat ook in Kroonstad woon.

Van Zyl sal onthou word vir sy goeie humorsin en stories wat hy graag met genot vertel het.

Hy kon ook mooi sing en was ‘n bobaas-bakker. Hy het graag mense bederf met koeke, wat hy pragtig versier het.

“Die Here het sy teddiebeer kom haal om die kinders in die hemel te bederf en in die engelkoor te sing,” sê Morné.

Van Zyl se begrafnis, op Saterdag 29 November in die NG kerk Kroonheuwel-Noord, begin om 11:00.

Hy word oorleef deur sy pa, Gerrit, en ma, Chereé, asook sy drie broers: Pieter, Gerrie en Morné.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article