Huldeblyke stroom in vir die geliefde tuinman en die hart en siel van ‘n bekende kwekery in Bloemfontein wat op Maandag 3 Augustus oorlede is.
Jan van Blerk, een van die stigterslede van Greenside-kwekery, was vir jare die vriendelike gesig wat klante met sy kennis en belangstelling gehelp het.
Personeel van Greenside het die nuus van sy dood op Greenside-kwekery se Facebook-blad gedeel.
“Hy het nie net plante laat groei nie – hy het mense geïnspireer, verhoudinge gebou en herinneringe geskep. Hy het sy kennis, sy tyd en sy liefde vir die natuur met passie en oorgawe gedeel. Oor die jare het hy duisende mense se tuine mooier gemaak, maar nog belangriker, hy het hul lewens verryk met sy omgee-hart, sy humorsin en sy opregte menswees.
“Sy nalatenskap leef voort in elke boom wat hy geplant het, elke tuin wat hy help skep het en in die harte van ieder en elk wat die voorreg gehad het om hom te ken.”
Dirkie Herholdt, bekend vir haar uitsonderlike roostuin in Roodewal, sê op die Facebook-blad: “Jan het elke kliënt soos die enigste kliënt van Greenside laat voel. Streng, passievol, raadgewer, vriendelik, rustig, ware heer, liefdevol – dit was Jan van Blerk.”
“Omdat blomme, diere en elke mens wat hy geken het sy lewe en passie was, vra ons met liefde dat daar, indien moontlik, eerder ‘n skenking ter nagedagtenis aan Jan van Blerk aan die Dierebeskermingsvereniging of die Kankervereniging gemaak word, eerder as om blomme te stuur,” vra Greenside se personeel op die Facebook-blad.
Greenside sal op 11 Augustus gesluit wees vir sy troosdiens wat dan om 11:00 by die Woodland Hills Gemeenskapskerk in Bloemfontein gehou sal word. Toegang by die hek: Jan van Blerk begrafnis. Kontak 076 982 7375 met navrae.






