Die sonsondergang is vir Danie de Wet baie besonders en hy is dankbaar dat hy die oomblik kon vasvang.


Die lugfoto van die NG gemeente Kroonstad-Noord is ’n foto wat Danie de Wet geneem het. Hy geniet dit baie om veral die ou geboue en sandsteengeboue af te neem.

“Dit is ’n belewenis om foto’s op ’n ander manier as met ’n gewone kamera te neem. Die feit dat jy dinge letterlik uit ’n ander oogpunt kan afneem, is wat ’n hommeltuig se beeldmateriaal so opwindend maak,” sê Danie de Wet (45) van Kroonstad.

De Wet is veral bekend op sosiale media waar hy graag sy lugfoto’s van Kroonstad en omgewing deel. Hy sê dat sy belangstelling in die tydverdryf geprikkel is toe sy dogter Danielle (12), ’n klein hommeltuig aangekoop waarmee sy in die huis rond kon vlieg.

De Wet het toe vir hom die Dji Mavic pro1-hommeltuig aangeskaf en so het hy video’s en foto’s begin neem.

De Wet, wat sy het sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Kroonstad (Blouskool) voltooi het en by die departement van gesondheid in Kroonstad werksaam is, sê daar is baie reëls en regulasies aangaande die gebruik van ’n hommeltuig. Jy mag net 120 m hoog vlieg en moet altyd in sig wees.

Die hommeltuig mag ook nie nader as 50 m van mense af vlieg nie en mag geensins naby of by ’n polisiekantoor, hofgeboue, militêre basisse en lughawens vlieg nie.

Hommeltuie word met afstandbeheer gevlieg wat met ’n kabel aan ’n slimfoon verbind is.

Dié nagfoto van Kroonstad is een van Danie de Wet se gunsteling-foto’s wat hy met sy hommeltuig geneem het.

’n Spesiale toepassing word vir die hommeltuig op die slimfoon afgelaai wat dit moontlik maak vir die vlieënier om die hommeltuig te beheer en te sien waar om te vlieg.

Die toepassing verskaf ook inligting soos die presiese hoogte, afstand en rigting wat gevlieg word en stuur waarskuwings uit as iets foutief is. Dit gee ook die windsterkte en sones waar nie gevlieg mag word nie en sê hoeveel batterylewe oor is.

De Wet sê dit is ’n kuns om die hommeltuig te bemeester, veral in wind en skerp ligtoestande en wanneer nuuskierige voëls soos swaeltjies soms die hommeltuig omring. Die hommeltuie neem foto’s en video’s soos ’n gewone kamera, hoewel die kamera gestel kan word om die beeldmateriaal uit verskillende hoeke te neem, en die gewildste hiervan is die bekende “bird’s eye view.”

Danie de Wet se nuwe stokperdjie is om beeldmatriaal met sy hommeltuig te versamel.

De Wet het al heelwat beeldmateriaal van die sandsteengeboue, kerke, begraafplase, die Bloemhoekdam, Serfonteindam, Valsrivier en vele meer so op kamera vasgevang.

“Aanvanklik is dit ’n duur stokperdjie, maar sodra alles in plek is, is dit bekostigbaar behalwe as jy ’n ongeluk maak wat soms onvermydelik is. Die onderdele van ’n hommeltuig is duur.”

De Wet se unieke lugfoto’s is al op verskeie geleenthede in VrystaatKroon as foto van die week gepubliseer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article