Die leuse van die Living Hope-stigting is: “Elkeen van ons kan ‘n verskil maak. Help ons om ander ook te help.”
Dié niewinsgewende organisasie, wat gestig is met die hoofdoelwit om in die behoeftes van minder bevoorregte mense te voorsien, versprei ook Bybels en Christelike leesstof.
Die stigting is die geesteskind van die 29-jarige Juandré van Zyl, van Frankfort.
Juandré is oorspronklik van Pretoria, waar hy gebore is en grootgeword het. Hy beskou sy kinderjare as uitdagend, en hy moes verskeie emosionele uitdagings oorkom. Hy het ook ‘n baie donker pad gestap totdat hy op 23 Februarie 2018 sy lewe vir die Here gegee het.
“Op daardie dag het alles verander. Ek het met ander oë na alles om my gekyk,” sê Juandré.
In dié stadium van sy lewe het hy in Polokwane gewoon.
Juandré het in 2020, tydens die Covid-19-pandemie, by die Leading Miracle-stigting betrokke geraak. Dié organisasie het tydens die pandemie kos en noodsaaklike benodigdhede aan behoeftiges voorsien. Dit is in sy tyd hier dat Juandré besef het dat sy roeping is om ‘n verskil in mense se lewe mee te bring.
Toe hy in 2022 na Frankfort verhuis, het hy saam met sy vrou, Elisna, die Living Hope-stigting begin – ‘n droom wat hy toe reeds geruime tyd gekoester het. Hy wou die werk voortsit waarby hy in Polokwane betrokke was.
Dit is vir die egpaar ‘n hartstaak om na hul medemens om te sien, behoeftes aan te spreek, en geestelike leiding te gee.
Hoewel hulle altwee in ‘n heeltydse beroep staan, is die stigting ‘n voorkeursaak, en die fokus bly met oorgawe daarop om ‘n verskil mee te bring. Hulle gryp elke geleentheid wat hom voordoen aan om mense te bedien en te help.
Een so ‘n geleentheid was die einde Augustus op die Ignite and Revive- Christelike fees, wat in Kroonstad plaasgevind het. Juandré het hier Bybels teen ‘n skenking, asook gratis Christelike leesstof, versprei. Feesgangers van ‘n wye verskeidenheid agtergronde en ouderdomme het by sy stalletjie aanklank gevind.
“Dit is wonderlik om mense op te lig wat moedeloos is, of net nie op ’n goeie plek is nie. Ons leef in baie uitdagende tye. As iemand met ‘n glimlag kan wegstap, weet ek ons het iets vir daardie persoon beteken,” sê Juandré.
Die Van Zyls wil graag eendag heeltyds bedien en hoop om veral met die jeug te werk, aangesien hulle die toekoms in hul hande hou.
Living Hope nooi weldoeners om by die stigting betrokke te raak, hetsy deur skenkings of in woord en daad. Vir inligting bel Juandré by 082 444 0632.




