Ds. Christo Weideman van die NG kerk Kroonheuwel-Noord in Kroonstad is op die Vrystaatse sinodesitting tot die moderator (voorsitter) van die moderamen van die NG Kerk Vrystaat verkies.
Die sinodesitting het van 7 tot 10 Junie by Nampopark buite Bothaville geduur, waar afgevaardigdes van oor die provinsie heen byeengekom het om verskeie belangrike sake rakende die kerk te bespreek.
Weideman volg ds. Jan Lubbe, die voorsitter van die algemene sinode, in dié hoedanigheid op.
Hy dien reeds die afgelope 14 jaar as leraar van die NG kerk Kroonheuwel-Noord en was voorheen as leraar by die NG kerk Vanderbijlpark-Noord werksaam.
As nuwe moderator beklemtoon Weideman sy liefde vir die kerk en sy strewe om eenheid binne die kerk te bevorder.
“Dit is my visie dat die Vrystaatse sinode in ‘n gees van eensgesindheid sal leef,” sê hy.
“Dit beteken dat ons van mekaar mag verskil en sake verskillend kan benader of toepas, sonder om die eenheid van die kerk te verskeur.
“Ons moet ruimte vir verskillende standpunte hê, maar steeds as een geloofsgemeenskap saam vorentoe beweeg,” sê hy.
Volgens Weideman was die sinodesitting besonder suksesvol en is hy oortuig daarvan dat die Vrystaatse sinode nie sal skeur of verdeel nie, maar as ‘n verenigde liggaam sal voortbestaan.
Die nuutverkose lede van die moderamen het met die sitting amptelik die verantwoordelikhede van hul voorgangers oorgeneem.
Die nuwe moderamen bestaan uit: Weideman as voorsitter; dr. Leon Foot as skriba; ds. Riaan van Zyl as ondervoorsitter; ds. Leon Oos as aktuarius; en ds. Charles James as addisionele lid.
Weideman is met Edith getroud en die egpaar het twee kinders. Hul dogter, Rudéne Strydom, is ‘n apteker in Pretoria, terwyl hul seun, Henco Weideman, as onderwyser in Sasolburg werk.
Weideman neem nou as moderator die leiding van die Vrystaatse sinode oor in ‘n tyd dat eenheid, samewerking en geloofsverbintenis binne die NG Kerk van besondere belang bly.



