Elke jaar het die Vrystaat Vrouelandbou-unie (VVLU) ‘n hoofprojek waaraan die takke deelneem en vanjaar se projek was om skryfbehoeftes in te samel. Die skryfbehoeftes is vir Burre Bruger se liefdadigheidsorganisasie Droogtehulp ingesamel. Die organisasie sal op hul beurt die skryfbehoeftes aan behoeftiges wat geïdentifiseer is versprei.
Die VLU-takke in die Vrystaat het saam ‘n poging aangewend om so veel moontlik skryfbehoeftes vir die doel in te samel.

Tydens die 95ste VLU-jaarkongres wat op 3 en 4 September in Bloemfontein plaasgevind het, is die skryfgehoeftes aan Burger oorhandig. Burger is ook vir sy liefdadigheidswerk vereer. Hy is die stigterslid van die organisasie Droogtehulp met Burre Burger NPC, wat in 2017 van stapel gestuur is om tydens die erge droogte van daardie jaar die boeregemeenskappe in die droogtegeteisterde gebiede by te staan. Onder sy leiding het die organisasie meer as 5000 vragte veevoer en kos aan boere geskenk en ook finansiële hulp aan boere vir mediese uitgawes en skoolgeld voorsien.
“Droogtehulp se leuse is ‘saam kan ons meer doen’ en dit was die VVLU se inspirasie om by die projek betrokke te raak,” sê Catrien Koekemoer, voorsitter van die VLU-Koppiestak.






You must be logged in to post a comment.