Die Suid-Afrikaanse junior-jukskeispan het ‘n oefenkamp in Kroonstad bygewoon ter voorbreiding vir hul toer na Namibië waar hulle teen die gasheerland sal kragte meet.
Die spanne wat na Swakopmund in Namibië sal toer is tydens die Suid-Afrikaanse junior jukskeikampioenskappe wat in Desember verlede jaar in Kroonstad plaasgevind het, aangewys.
Die vier spanne wat Suid-Afrika sal verteenwoordig is die o.16-meisiespan wat deur Valmari Smith afgerig word, o.16-seuns met afrigter Janse Marais, o.19-meisies met Denise Nel as afrigter en die o.19-seuns wat deur Ludie Pretorius afgerig word. Elsje Hand is as hoofafrigter aangewys en Marzé Jacobs as spanbestuurder.
Die jukskeitoernooi sal van Maandag 30 Junie tot Vrydag 4 Julie plaasvind. Die Suid-Afrikaanse spanne sal op Woensdag 25 Junie vertrek.

Spanne betaan uit vyf spelers en die laaste deel van die toernooi sal op Vrydag 4 Julie beslis word. Tydens die oefenkamp in Kroonstad is daar op die spelers se spel gefokus en om tegnieke te verbeter. Spel benadering en strategie vir die toer is bespreek en die spanne het saam geoefen om mekaar beter te leer ken. Sewe wedstyde is teen spanne van die Noord-Vrystaat, ouers en juniors gespeel ter voorbereiding van die toer.
Nico Hand nasionale afrigter vir mans o.30, het gehelp met die afrigting en kennis oor die spel.
“Die spelers asook die ses lede van die bestuurspan het die oefenkamp in Kroonstad bygewoon. Ons wil ons opregte dank teenoor die Kroonstad-jukskeibestuur uitspreek vir hulle welkome ontvangs, verblyf en gasvryheid wat tot die kamp se sukses bygedra het,” sê Elsje Hand.
Volgens Hand was die oefenkamp ‘n reuse-sukses en die spanne sien daarna om na Namibië te toer.







You must be logged in to post a comment.