Madli Grobbelaar
Die finaliste wat om die titel van Vrystaat Landbou (VL) se Jongboer van die jaar vir 2025 meeding, is onlangs bekend gemaak.
Die aankondiging is op Donderdag 10 April, op die organisasie se Jongboer-konferensie wat in Bloemfontein gehou is, gedoen.
Die vyf is: DJ Meades van Petrusburg; Junior Ferreira van Bethlehem; JW Dercksen en Morné Kleynhans, wat albei van Hertzogville is; en Tienie Prinsloo van Hoopstad.
Die beoordeling het reeds op 26 en 27 Februarie plaasgevind toe die beoordelingspaneel, bestaande uit verskeie kundiges, elke kandidaat op hul plaas besoek het.
Ferreira (34), die enigste finalis uit die Oos-Vrystaat, boer die afgelope 14 jaar in die Bethlehem-distrik.
Hoewel hy die afgelope vyf jaar alleen boer, het hy aanvanklik nege jaar lank op dieselfde plaas saam met sy pa geboer, voor sy pa se afsterwe.
Ferreira streef daarna om meer regeneratiewe en bewaringsboerderypraktyke op sy plaas toe te pas.
Sy langtermynvisie is om meer omgewingsvriendelik te boer, nader aan die natuur, om sodoende beter grond vir die volgende geslag na te laat.
Hy is al 12 jaar lid van Sonop-boerevereniging, asook ‘n lid van Graan SA, en dien die
afgelope jaar as voorsitter van die Bethlehem-veediefstal-inligtingsentrum.
Prof. Pieter Fourie, sameroeper van die provinsiale beoordelingspaneel, meen die
finaliste se passie, trots en entoesiasme is aansteeklik.
“Die jongboere maak ‘n mens hoopvol en opgewonde oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika,” meen hy.
VL se Jongboer van die jaar vir 2025, word op 6 Augustus aangekondig en dring daarmee deur na die nasionale AgriSA-ToyotaSA-kompetisie wat later vanjaar plaasvind.





