Die Vrystaat se bek-en-klouseer-uitbreking neem steeds toe, met die provinsiale departement van landbou en landelike ontwikkeling wat op Vrydag 28 November bevestig het dat die aangemelde gevalle op 118 staan.
Dit is 12 meer gevalle as twee weke vantevore. Nuut bevestigde gevalle sluit in: Frankfort (1), Edenville (1), Bothaville (1), Parys (4), Deneysville en Sasolburg (3), Tweeling (1) en Vrede (1).
Volgens die jongste verklaring is bevestigde gevalle per munisipaliteit soos volg: Kroonstad: 10; Viljoenskroon en Vredefort-distrik: 45; Deneysville en Sasolburg: 20; Cornelia en Frankfort: 9; Tweeling: 1; Vrede: 1; Heilbron: 2; Parys en Vredefort-distrik: 19; Edenville: 5; Odendaalsrus: 1; Bothaville: 2; Marquard: 1 en; Clocolan: 1.
Die departement het belanghebbendes streng daaraan herinner dat die beweging van diere onder kwarantyn sonder toepaslike dokumentasie ‘n strafregtelike oortreding is. Dié reëlings bly noodsaaklik om die verspreiding van die siekte te stuit en die provinsie se veebedryf te beskerm.
“Ons kan die verspreiding van die siekte slegs beperk as ons saamwerk en alle moontlike gevalle onmiddellik aanmeld,” sê dr. Jurgens Barnard, waarnemende direkteur van veeartsenykundige dienste.
Die departement beklemtoon dat volle nakoming van kwarantynregulasies ononderhandelbaar is om die uitbreking te beperk en uiteindelik uit te wis.
Volgens ‘n verklaring van die departement het hulle die inenting op die besmette plase gepriotiseer. Inenting het dadelik begin om te help om die viruslading te verminder en verdere verspreiding van die virus te beperk.
Bewegingsbeperkings is ook op alle plase binne ‘n radius van 10km van die besmette plase ingestel.





