Die Landbouweekliks-span, met aanbieder David Johnson, het in Maart by die Hoërskool Trio in Kroonstad gekuier. Skoolhoof Hendré Kachelhoffer het aan Landbouweekliks verduidelik dat Trio op landbou, akademies en tegniese vakke fokus. “Alhoewel hierdie skool suiwer akademiese, en volwaardige tegniese bane aanbied, is dit veral die landbouafdeling wat leerlinge lok. Vakke soos landboubestuurspraktyk en landboutegnologie gee aan jongmense die vermoë om self probleme op te los en selfstandig te wees.
“Die praktiese opleiding op ons skool se twee plase dra ook by tot leerlinge se gewildheid as plaaswerkers in die buiteland,” sê Kachelhoffer. Trio se landbouafdeling gee ook aan dorpskinders blootstelling aan boerdery.
Johnson het tydens die opname self moue opgerol om saam met leerlinge Trio se plaasbedrywighede aan te pak. Die program is Dinsdag 2 April op VIA, kanaal 147 om 18:00 uitgesaai.
– Madli Grobbelaar





