Gewoonlik as ’n geliefde skoolhoof ná jare aftree, gaan dit gepaard met ’n behoorlike afskeidspartytjie.
Só was dit ook toe Carlo du Toit (61), hoof van die Laerskool Graanveld in Bethlehem, op Maandag 25 November die tuig neergelê het.
Du Toit was 35 jaar lank aan dié skool verbonde, en hy was die afgelope 27 jaar die hoof.
Maandag het die leerlinge ’n erewag gevorm toe Du Toit die skool verlaat.
’n Afskeidsgeselligheid is saam met van die ander skoolhoofde in Bethlehem by die Bethlehem-lughawe vir Du Toit gereël, en hy is met ’n vliegtuig oor Bethlehem geneem om die geselligheid af te sluit.
Du Toit is getroud met Suzanne du Toit, wat ook in Junie ná 30 jaar in die onderwys by Graanveld afgetree het.
Die egpaar het twee seuns, Morgan en Eugene.
Morgan het medies studeer en sal volgende jaar sy gemeenskapsdiensjaar aan die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad deurloop.
Eugene studeer landbou in Bloemfontein.
Die Du Toits tree in Bethlehem af.
Wessel de Bruin sal as waarnemende hoof van die Laerskool Graanveld die leisels by Du Toit oorneem.




