Boere en betrokkenes in die landbousektor word gewaarsku teen moontlike dieselprys-manipulasie te midde van toenemende spanning in internasionale brandstofmarkte.
Vrystaat Landbou (VL) het die afgelope naweek daarop gewys dat die verhewigende konflik tussen Amerika en Iran reeds wêreldwye onsekerheid in olie- en dieselmarkte veroorsaak het. Hierdie spanning het ook druk op belangrike skeepvaartroetes geplaas – soos die Straat van Hormoes, waardeur ’n groot deel van die wêreld se olie normaalweg beweeg.
Ontwrigtings op hierdie roetes het internasionale brandstofpryse laat styg en die risiko van verdere voorsieningsprobleme verhoog.
Hoewel die Suid-Afrikaanse regering aangedui het dat daar geen onmiddellike brandstoftekort in die land is nie, bly Suid-Afrika sterk afhanklik van ingevoerde geraffineerde brandstofprodukte, het die VL gewaarsku.
Hierdie afhanklikheid stel die landbousektor en die breër ekonomie bloot aan moontlike prysskokke –en selfs voorraadbeperkings, sou die konflik verder vererger.
Diesel bly ’n kritieke inset in landbouproduksie omdat dit aanplanting, oes, besproeiing en die vervoer van voedsel oor die land heen aandryf. Enige skerp styging in dieselpryse of ontwrigting in die voorsiening daarvan sal onvermydelik bykomende druk op boere plaas en eindelik voedselpryse vir verbruikers verhoog.
LEES OOK: Kommer oor verwagte brandstofpryse
Die president van die VL, Francois Wilken, het gesê die organisasie moniteer die ontwikkelinge in wêreldwye brandstofmarkte en die moontlike invloed daarvan op die Suid-Afrikaanse landbou deurlopend. Hy het bygevoeg dat die VL met belanghebbendes in die sektor sal saamwerk om die stabiliteit van Suid-Afrika se voedselproduksiestelsel te beskerm.
Volgens Wilken is die organisasie ook bewus van gevalle waar grootmaatbrandstofverskaffers glo diesel van boere weerhou in afwagting van moontlike prysstygings.
“Vrystaat Landbou sal nie toelaat dat boere uitgebuit word deur opportunistiese prysmanipulasie of kunsmatige voorraadbeperkings in ‘n tyd wanneer landbou reeds onder druk verkeer nie,” sê Wilken.




