Verskeie landbou-organisasies, waaronder Vrystaat Landbou (VL), die Suider-Afrika Agri-inisiatief (SAAI) en Sakeliga, het formele regsstappe teen die staat geïnisieer oor die verkryging en toediening van entstowwe teen bek-en-klouseer (BKS).
Die organisasies eis dat die staat se monopolie oor BKS-entstowwe beëindig word om boere toe te laat om privaat entstowwe te verkry en toe te dien.
Die organisasies het vroeër die week, deur hul regsverteenwoordiger, ’n eisbrief aan die Minister van Landbou John Steenhuisen en senior staatsamptenare gerig. In die brief word geëis dat daar teen Vrydag 30 Januarie skriftelike bevestiging gegee word dat veeboere toegelaat sal word om, in samewerking met staats- en privaat veeartse, privaat entstowwe te verkry en toe te dien.
Volgens die president van Vrystaat Landbou, Francois Wilken, volg dié stap ná maande van onsekerheid, beperkte kommunikasie en toenemende BKS-uitbrekings onder ’n gesentraliseerde, staatsbeheerde stelsel. Hy waarsku dat die voortbestaan van Suid-Afrika se veeboerdery- en vleisbedryf in gevaar is.
Die organisasies voer aan dat hul lede se grondwetlike regte, waaronder die reg om ’n beroep vrylik te beoefen, die reg op eiendom en die reg op menswaardigheid, ernstig geskend word. Dit volg te midde van ’n BKS-uitbreking wat reeds oor verskeie provinsies versprei het en volgens die minister van landbou só ernstig is dat die afkondiging van ’n nasionale ramptoestand oorweeg word.
Tydens ’n nuuskonferensie op Woensdag 14 Januarie het die minister aangekondig dat die staat se strategie daarop gemik is om die hele nasionale veekudde teen BKS te ent. Landbou-organisasies sê egter boere wag steeds op ’n duidelike en uitvoerbare plan, asook ’n realistiese tydlyn vir die entstofuitrol.
In die eisbrief word verskeie kernbekommernisse uitgelig, waaronder die staat se eksklusiewe beheer oor die verkryging en toediening van entstowwe tydens ’n ernstige dieregesondheidskrisis, die tekort aan beskikbare entstowwe, en die verbod op boere om hul kuddes self te beskerm deur privaat inenting.
Die organisasies voer aan dat daar geen wetlike of rasionele rede is om privaat inenting te verbied nie en dat dit die staat se las sal verlig en die uitrol van entstowwe kan versnel.
Volgens Wilken is daar betroubare entstofverskaffers wat gereed is om die privaat sektor te bedien, en hy beklemtoon dat privaat toegang tot entstowwe nie die staat se eie voorraad sal benadeel nie. Hy waarsku verder dat ’n beduidende deel van veeboere reeds die risiko van totale bedryfsineenstorting in die gesig staar.
Nog ’n bron van kommer is die vertraging met die uitreiking van permitte ingevolge Artikel 21 van die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe, 1965, aan privaat maatskappye. Hoewel die minister aangedui het dat die privaat sektor by invoere betrek word, bestaan daar onsekerheid oor of boere entstowwe direk sal kan verkry en self toedien binne die bestaande veeartsenynetwerk.
Die organisasies waarsku ook dat huidige regulasies en protokolle boere onredelik beperk en nie vir die huidige omvang van die krisis ontwerp is nie, wat ernstige finansiële gevolge vir die bedryf kan inhou.
Indien daar geen bevredigende reaksie teen die gestelde sperdatum ontvang word nie, sal verdere regsoptrede oorweeg word. Volgens die organisasies is die stappe daarop gemik om die belange van die landboubedryf, voedselsekerheid en die breër ekonomie te beskerm.





