‘n Geliefde en gewilde onderwyser van Kroonstad is skielik oorlede. Die 41-jarige Graham Van Zyl, ‘n boorling van Kroonstad is op Vrydag 14 November, vermoedelik aan hartversaking en ‘n te kort aan suurstof dood.
Van Zyl het gesondheidsuitdagings gehad en is in die hospitaal opgeneem voordat hy dood is.
Hy was ongetroud en het as onderwyser al die kinders by die skool as sy eie beskou. Sy onderwysloopbaan het hy aan die Johan Slabbert-skool in Kroonstad begin en hy was verbonde aan die Kroon Primary School in Kroonstad ten tyde van sy dood.
Van Zyl het aan die destydse Hoërskool Kroonstad (Blouskool) matrikuleer en het ná skool homself as onderwyser aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom bekwaam.
Sy familie en vriende beskryf hom as ‘n goeie en geliefde persoon en ‘n gewilde onderwyser.
“Graham het altyd tyd gemaak vir sy medemens. Dit was vir hom belangrik om ‘n verskil te maak waar hy kan. Hy was ‘n opregte mens met ‘n liefde en passie vir sy familie, vriende en die kinders by die skool. Om saam met sy familie en vriende te kuier en almal te bederf was vir hom heerlik,” sê sy jongste broer Morné van Zyl van Kroonstad.
Van Zyl sal onthou word vir sy goeie humorsin en stories wat hy graag met genot vertel het. Hy kon ook mooi sing en was hy ‘n bobaas-bakker en het graag mense met ‘n koeke wat hy pragtig versier het, bederf.
“Die Here het sy teddiebeer kom haal om die kinders in die hemel te bederf en in die engelkoor te sing,” sê Morné.
Van Zyl se begrafnis sal op Saterdag 29 November in die NG kerk Kroonheuwel-Noord om 11:00 plaasvind. Hy word deur sy pa, Gerrit, en ma, Chereé, asook sy drie broers Pieter, Gerrie en Morné van Zyl oorleef.







You must be logged in to post a comment.