Oorbevolking van wild by Wolhuterskop bedreig biodiversiteit en toerisme in die Vrystaat

Isoldé Laesecke, onafhanklike wyksraadlid van die Dihlabeng-munisipaliteit, het haar kommer oor die uitskiet van die diere by die Wolhuterskop-natuurreservaat buite Bethlehem uitgespreek. ‘n Tender is uitgestuur om die diere te skiet. FOTO: Verskaf

Die oorbevolking van wildspesies by die Wolhuterskop-natuurreservaat buite Bethlehem bedreig nie net die welstand van die diere nie, maar ook die biodiversiteit. Oorbewyding hier lei tot die vernietiging van die habitat, wat die eko-vriendelike toeristebestemming in duie kan laat stort.

VrystaatKroon het op Maandag 20 Oktober berig dat die huidige wildtelling wat deur SANParke gedoen is, die reservaat se wildbevolking en ekologiese dravermoë met ‘n verstommende 150% oorskry.

Die ekologiese balans is in gevaar, daarom is ‘n aanbeveling gemaak dat 1 200 blesbokke en 40 elande verwyder moet word. Die uitskiet van wild vind gewoonlik jaarliks vanaf Mei tot Augustus plaas.

Die Dihlabeng-munisipaliteit het op Vrydag 31 Oktober ‘n advertensie vir bevolkingsbeheer onder wilde diere geplaas.

Op Saterdag 8 November het Isoldé Laesecke, onafhanklike wyksraadlid van die Dihlabeng-munisipaliteit, haar kommer uitgepreek. Daar is diere wat dragtig is. Dit sal ‘n onreg wees om dié diere te skiet.

“Ek sal seker maak dat die saak verder gevoer word en die belanghebbende owerhede se aandag daarop vestig,” sê Laesecke.

Vrystaatkroon het ‘n medianavraag aan Tshediso Maitse, die munisipale woordvoerder van die Dihlabeng-munisipaliteit, gestuur om die stand van sake te bevestig. Daar word nog op terugvoering gewag.

Marius Dreyer, voorsitter van die Bethlehemse DBV, het bevestig dat hulle kennis dra van die bogenoemde en dat die saak wel op nasionale vlak hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article