‘n Lid van die Bethlehem-uithouritklub wat sedert verlede jaar Februarie aan dié sportsoort deelneem, spog reeds met 24 uithouritte agter haar naam.
Die 15-jarige Nelmari Bonthuys, wat ‘n gr.10-leerder aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem is, het ‘n ongekende liefde vir perdry en vaar uitstekend in hierdie vorm van perdesport.
In die betreklike kort tyd dat sy uithouritte doen, het sy reeds twee keer die uitmergelende Fauresmith-uithourit suksesvol voltooi. Met haar eerste Fauresmith-uithourit, verlede jaar, was sy 11de in die afdeling vir junior ruiters. Vanjaar het sy Natal se provinsiale span hier verteenwoordig en die agtste plek in dieselfde afdeling behaal.

As lid van die ontluikende Suid-Afrikaanse span het Nelmari aan die Tantebane- internasionale uithourit deelgeneem wat op 27 September in Francistown, Botswana, plaasgevind het. Dit was die eerste 120km-uithourit wat sy voltooi het; en daarom merkwaardig dat sy ‘n tweede plek, asook ‘n eerste plek, in die afdeling vir junior ruiters verwerf het.
Benewens uithouritte neem Nelmari aan ander vorme van perdesport deel. Sy is boonop vir die Vrystaat-span gekies om die provinsie in die Sanesa-kampioenskap te verteenwoordig. Hier het sy die algehele tweede plek op vlak 1 in haar afdeling behaal. Nelmari oefen elke naweek en vakansies, ter voorbereiding.
Haar ma, Taai, sê vandat Nelmari verstand gekry het, het sy ‘n liefde vir perde.
“Oral waar ons met vakansie was en daar was perde, het sy altyd gaan perdry. Ons het later vir haar ‘n boerperd en ‘n ponie gekoop, en toe kon ons haar natuurlik nie weer van ‘n perd se rug af kry nie,” vertel sy.
Nelmari se pa, Corné, ‘n boer van Bethlehem, het altyd graag perd gery – maar slegs vir die plesier daarvan. Haar familie reken dit is heel moontlik waar sy haar liefde vir perde gekry het.
Tans het Nelmari drie perde en ‘n ponie. Adira Skye en El Rosco Harik is haar uithouritperde, en die ander twee perde, Blue en Blertsie, is onderskeidelik ‘n gewone plaasperd en ‘n Basotho-ponie wat haar ouers vir haar in Desember 2021 by die Behlehemse DBV aangeneem het.
Nelmari berei tans voor vir haar deelname aan die Moolmanshoek-uithourit, wat in Januarie plaasvind.






You must be logged in to post a comment.