Die Sernick-groep se jaarlikse boereworskompetisie het vanjaar die sewe beoordelaars behoorlik laat kop krap.
Op Woensdag 24 September, Erfenisdag, en ook bekend as Braaidag, was daar 18 verskillende soorte boerewors wat deur deelnemers vir die kompetisie ingeskryf is.
Vleisbraaivure het reeds vroegdag hoog gebrand en deelnemers kon ten aanskoue van besoekers hul perfekte boerewors braai. Deelnemers kon verskillende soorte boerewors inskryf en het slegs 30 minute gehad om die wors te braai en vir die beoordelaars voor te sit.
Vanjaar was dit ds. Pieter Mohr van Niekerk van Kroonstad wat as die wenner aangewys is. Verlede jaar se wenners Hennie en Liza-mari Jonker van Zorro Hampshire Down was in die tweede plek met Stefanie Cornelissen, wat die Laerskool Trio verteenwoordig het, in die derde plek.

David Niemann, mede-uitvoerende hoof van die Sernick-groep sê dat hulle verlede jaar besluit het om die jaarlikse boereworskompetisie ‘n bietjie anders te benader. Die wenners kan nou ‘n liefdadigheidsorganisasie identifiseer, vir wie hulle R3 van elke kilogram wors wat deur Senrick verkoop word, sal ontvang om aan hulle liefdadigheidsorganisasie te skenk.
Van Niekerk sê sy liefdadigheidsorganisasie is die NG Gemeente Kroonheuwel-Noord waar hy leraar is. Die resepte is natuurlik elkeen se groot geheim, maar uit die punte was dit duidelik dat Van Niekerk iets spesiaal in sy wenresep gebruik het.

“Die wen-boerewors se hoofbestandeel is baie liefde,” sê Van Niekerk.
Karel Markgraaff, bestuurder van Sernick Butchery and Deli in Kroonstad, sê daar mag dalk in die toekoms ook ‘n potjiekoskompetisie van stapel gestuur word vanweë die boereworskompetisie se reuse-sukses.
Van Niekerk se wen-boerewors sal voortaan by die slaghuis te koop wees.






You must be logged in to post a comment.