Polisie trek een van drie vermeende kabeldiewe naby Clarens-gholfbaan vas


Vermeende kabeldiewe is naby die Clarens-gholfbaan deur owerhede opgemerk en een is vasgetrek.

Op Dinsdag 26 Augustus, omstreeks 03:00 het die polisie in Clarens in samewerking met private sekuriteistfirma een van drie verdagtes in hegtenis geneem vir kabeldiefstal.

Die verdagtes was besig om slote naby die Clarens-gholfbaan te grawe met die doel om kragkabels te steel. Sekuriteitsbeamptes wat patrolleer het op die R711-roete het die verdagtes opgemerk waarna hulle ondersoek ingestel het.

Die verdagtes het weggehardloop toe hulle die sekuriteit gewaar en die polisie se hulp is onmiddellik ontbied. 

‘n Grootskaalse soektog is van stapel gestuur. Die een verdagte is gevind waar hy in nabygeleë bosse weggekruip het, terwyl twee ander verdagtes verder gevlug het.

Die polisie het ‘n pikhouhandvatsel, rugsak, paar skoene, handskoene en ‘n staalsaag op die toneel gevind. ‘n Saak van kwaadwillige beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur is geopen.

Die verdagte sal binnekort in die Bethlehem-landdroshof verskyn en die ondersoek duur voort. Die polisie doen ‘n dringende beroep op die publiek om enige kabeldiefstal en verwante misdaad dadelik by die polisie aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article